Net omdat jy nie bevoorreg grootgeword het nie, beteken nie jy kan nie jou drome verwesenlik nie. Dít is die boodskap wat doktor Danielle Nel, 'n dosent in openbare bestuur en staatsbeheer aan die Universiteit van Johannesburg, aan jong mense wil oordra.

"My ma het ons gesin verlaat toe ek sewe jaar oud was," vertel Danielle, wat nou 34 is. Haar pa het daarna gesukkel om Danielle en haar twee broers alleen groot te maak.

"Ons het in Johannesburg gewoon. Die omstandighede was maar swaar en ons het finansieel baie gesukkel. Op 13 het die welsyn my kom wegvat."

Nadat sy 'n jaar lank in 'n plek van veiligheid gewoon het, is Danielle as 14-jarige na die Jakaranda-kinderhuis in Pretoria gestuur.

[caption id="attachment_136557" align="aligncenter" width="283"]Low_DA11478-065 Danielle ontvang een van haar vele grade.[/caption]

Maar wat vir baie kinders 'n doodloopstraat sou wees en hul toekomsdrome sou knou, was vir Danielle die grootste seën, sê sy. "Mense het vooropgestelde idees dat jy niks kan bereik as jy uit 'n kinderhuis kom nie, maar dis nie waar nie."

Sy sê vandag met trots sy was in 'n kinderhuis en weet sy het niks om voor terug te staan nie, vertel Danielle.

"Vandag is ek baie suksesvol en het ek al die wêreld plat getoer. Ek is hoogs geleerd, het 'n goeie werk en verdien 'n goeie salaris. Ek het 'n mooi huisie en meubels, mediese fonds, 'n pensioenfonds en goeie vriende in my lewe."

Sy was in die Jakaranda-kinderhuis tot sy haar hoërskoolloopbaan voltooi het en het daarna 'n beurs ontvang om haar studies aan die Universiteit van Johannesburg (destyds nog die Randse Afrikaanse Universiteit) te begin.

Hoewel sy vandag gelukkig is, erken Danielle dit was nie maklik om die selfvertroue en gemak te bereik wat sy vandag uitstraal nie.

"Ek het voortdurend op die verkeerde plekke na antwoorde gesoek. Waarom het my ma my verlaat? Waarom is ek afgeskeep? Waarom is ek verraai? Ek het verneder gevoel."

Sy het in haar vroeë 20's besef sy is verantwoordelik vir haar eie geluk en kan nie die trauma van haar kinderjare toelaat om haar lewenspaadjie te bepaal nie.

"Dit was vir my vreeslik vreemd gewees in hierdie groot kinderhuis met so baie kinders en niemand wat ek ken nie. Ek het gevoel asof ek nie daar hoort nie. Dit was nie maklik nie."

Maar nadat sy besluit het om die kinderhuis haar huis te maak, het Danielle floreer. Sy het akademies en op kultuurgebied uitgeblink en as student aan die universiteit presteer.

Sy het vandag nog kontak met van die kinders wat saam met haar in die tehuis gewoon het en sê haar huismoeder – met wie sy ook kontak behou het – was haar reddingsboei.

Sy sien ook deesdae haar pa en broers van tyd tot tyd en sê haar eie kinderdae se hartseer het haar nie laat afsien van die plan om eendag haar eie gesin te begin nie.

"Ek het tot dusver al my energie aan my loopbaan toegewy, maar glo ek kan ook nog iemand ontmoet en kinders hê."

Sy wil jong mense wys dat jy die skrywer van jou eie storie is en dat dit nie noodwendig jou skuld is wanneer nare dinge met jou gebeur nie.

"Ek het ná my ma se dood probeer vrede maak met my kinderdae. Dit het my baie lank geneem en ek het baie foute langs die pad gemaak, maar ek dank die Here dat Hy altyd se engele by my gehad het om my te beskerm."