Minder as ’n jaar nadat hy sy tasse vir Japan gepak het, is Allister Coetzee amptelik aangewys as die elfde Springbok-afrigter sedert Suid-Afrika se hertoelating tot wêreldsport.

[caption id="attachment_122584" align="alignnone" width="600"]Allister Coetzee is Dinsdag as die nuwe Springbok-afrigter aangesel. Foto: Gallo Images Allister Coetzee is Dinsdag as die nuwe Springbok-afrigter aangesel. Foto: Gallo Images[/caption]

Dié 52-jarige boorling van die Oos-Kaapse universiteitstad Grahamstad is reeds die afgelope 42 jaar by rugby betrokke, 22 jaar as speler en die res as afrigter.

Lees ook: Bok-legendes en rugbykenners sê hul sê oor nuwe Bok-breier

Hier is hoe Allister se rugbyloopbaan van skooldae af tot afrigter van die Springbokke verloop het:

1963: Allister Coetzee, later beter bekend as Toetie, word op 23 Mei 1963 in Grahamstad gebore. Hy skop op 11 sy eerste rugbybal en begin só sy liefde vir die sport.

1980: Hierdie jaar matrikuleer Allister aan die Hoërskool Mary Waters in Grahamstad en vertrek daarna na Port Elizabeth om aan die Dower-kollege te studeer. Hy speel ook rugby vir die kollege-rugbyspan. In dieselfde jaar begin Allister ook vir die nie-rassige Oostelike Provinsie speel. In 1985 begin hy vir die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) uitdraf. In die 1980’s het Suid-Afrika meer as een nasionale span gehad. Die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbal-unie (SARFU) het die wit Springbokke verteenwoordig en Saru spelers uit die ander bevolkingsgroepe.

1988: In hierdie jaar word Allister kaptein van die nasionale Saru-span en bekleë die pos tot 1992. 1992: Dié skrumskakel word in 1992 deel van die eerste Junior Bokspan wat na Namibië toer as die eerste verenigde span. In dieselfde jaar begin Toetie ook vir die Oostelike Provinsie in die Curriebekertoernooi te speel. 1982-1997: Allister was nie altyd net ’n rugbyspeler nie. Buiten sy passie vir die sport was hy ook ’n geliefde gr. 7-onderwyser vir vyftien jaar aan die Laerskool Gelvanpark in Gelvandale, Port Elizabeth. Diegene wat Allister in daardie tyd geken het, vertel hy het nie net rugby by Laerskool Gelvanpark afgerig nie, maar die ganse gemeenskap se seuns met sy passie vir rugby aangesteek. Hy moes uiteindelik die keuse tussen rugby en onderwys maak toe eersgenoemde te veel van sy tyd in beslag begin neem het. “Die keuse tussen rugby en onderwys was ondervermydelik, maar waarskynlik maklik op die ou end,'' het hy destyds aan Beeld vertel.

1996: Einde 1996 tree Allister uit as speler en begin hom op afrigting toespits. Hy was toe hulpafrigter vir die Oostelike Provinsie.

1998-2000: Allister besluit om sy vlerke te sprei en is die volgende drie jaar betrokke by die Sharks, twee daarvan as bestuurder en een as hulpafrigter. In dieselfde tyd is hy ook aangestel as afrigter van die Opkomende Springbokke (1998) en die Vodacom All Stars (1999). In 2000 word hy die afrigter van die nasionale o.23-span.

Lees ook: Allister se loopbaan as afrigter: ’n paar hoogte- en laagtepunte 2001: Allister maak geskiedenis toe hy die eerste bruin afrigter van ’n provinsiale span, die Oostelike Provinsie Olifante, word. Hy bedank in 2003 om as keurder by die nasionale span aan te sluit. 2004: Tydens sy tyd as keurder vir die nasionale span word Toetie aangestel as Jake White, die destydse Springbokbreier, se assistent en hulpafrigter. Hy spits hom veral toe op die agterspelers. 2005-2006: Terwyl Allister by die Springbokke betrokke is as hulpafrigter, word hy ook in 2005 die agterlynafrigter van die Goue Leeus (toe nog bekend as die Cats.) Hy was net ’n enkele seisoen by die Cats betrokke en verlaat die span in 2006.

2007: Allister toer saam met die Springbokke na Frankryk vir die Wêreldbekertoernooi waar die Suid-Afrikaanse span seëvier. Allister ontvang ’n medalje as erkenning vir sy bydrae as hulpafrigter en Jake White se assistent. Ná afloop van die Wêreldbekertoernooi en Jake White se uittrede as afrigter, was Toetie een van die hoofkandidate om by hom oor te neem. Peter de Villiers is toe in dié pos aangestel. 2008: Allister sluit by die Stormers aan as afrigter van hul agterlyn. In dieselfde jaar word hy hoofafrigter van die Westelike Provinsie. Allister en sy gesin – sy vrou, Dianne, en dogters, Melissa en Mariska – verhuis ook van Port Elizabeth na Welgemoed in die Kaap.

2010: Toetie neem in 2010 die leisels as hoofafrigter van die Stormers by Rassie Erasmus oor. “Allister is goed met die spelers, media en publiek onder moeilike omstandighede. Hy is ’n ou wat gehelp het om die Wêreldbeker te wen, is 10 jaar ouer en meer ervare as ek en ons kan dit nie weggooi nie,” het Rassie destyds oor Allister se aanstelling gesê.

Onder Allister wen die Stormers 61 van 93 wedstryde.

Lees ook: ‘Dis waarom ek bedank het,’ onthul voormalige Bok-afrigter Heyneke Meyer

2015: Allister besluit om nie sy kontrak met die Stormers óf die Westelike Provinsie te verleng nie. Talle rugbygeesdriftiges was geskok om te hoor dié gesoute afrigter het besluit om groener weivelde oorsee te gaan soek as die hoofafrigter van Kobe Kobelco Steelers in Japan.

Allister se eertydse Stormers-hulpafrigter, Robbie Fleck, het in die tussentyd by hom oorgeneem hangende ’n permanente aanstelling. Robbie volg in die voetspore van Eddie Jones wat bitter kort ná sy aanstelling as afrigter besluit het om die Stormers te los en Engeland te gaan afrig.

Oor sy besluit om te bedank sê Allister hy het gevoel dis tyd vir ’n nuwe uitdaging. Hy het gerugte sterk ontken dat hy Japan toe gaan om te gaan aftree.

“Ek gaan om myself te verryk. Dis ’n verkeerde opvatting dat Japan ’n aftreeoord is; inteendeel, dis waarheen jy gaan om buite jou gemaksone te kom en te groei,” het hy gesê.

2016: Maar skaars ’n jaar nadat Allister sak en pak oorsee is, kom klop die Suid-Afrikaanse Rugbyunie weer aan sy deur en bied hom die toppos as Springbokbreier aan. Toetie aanvaar die aanstelling en bedank daarmee as afrigter van die Kobe Kobelco Steelers.

Allister het sy vrou, Dianne, as studente by Dower-kollege in Port Elizabeth ontmoet. Hulle is 30 Junie 1990 getroud. Saam het hulle twee dogters, Melissa ‘Milly’ Morgan en Mariscka. Melissa is ’n onderwyseres by Laerskool Welgemoed en die ma van hul kleindogter, Marissa. Mariscka het Bestuurswese aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Dianne was ook haar lewe lank ’n onderwyseres, maar het in latere jare haar man op en af van die veld af ondersteun.

[caption id="attachment_122586" align="alignnone" width="600"]Allister saam met sy gesin. Van links sy vrou, Dianne, kleindogter, Marissa, Allister, sy jongste dogter, Melissa en Mariscka. Foto: Facebook Allister saam met sy gesin. Van links sy vrou, Dianne, kleindogter, Marissa, Allister, sy jongste dogter, Mariscka (agter) en ousus Melissa. Foto: Facebook[/caption]

– Petrus Malherbe

Bronne: Die Burger; Netwerk24; Beeld; Facebook; Wikipedia; Sport24; The Stormers; Pasella

Bronne: wikipedia.com, supersport.com, superxv.com, sarugby.net

Ander stories op Huisgenoot.com

Klop só lag-lag jou hoofpyn

Gucci-advertensie verbied oor ‘ongesond maer’ model

‘Vet Vincent’ die worshond skud die kilo’s af – en jou troeteldier kan ook

102-jarige vrou stralend oor graad wat sy ontvang 60 jaar nadat sy daarmee begin het

Aantal tiere wêreldwyd styg eerste keer in ? eeu

Hulp vir deurmekaar kiesers ná adres-SMS oor munispale verkiesing