Dié oudbrandweerman het alles wat hy besit het verloor weens sy afhanklikheid van dwelms. ’n Ruk lank het hy sopkombuise besoek.

Paul vertel van sy ervaring: “Nadat ek een spesifieke sopkombuis besoek het, het ek opgemerk die mense aan die stuur daarvan deel nie net kos uit nie, maar in ’n sekere opsig ook hoop. Hulle het vrylik ondersteuning gebied aan enigiemand wat hulp nodig gehad het om die oorgang van ’n staat van hopeloosheid en haweloosheid tot een van selfonderhoud en eindelik voltydse werk te maak.”

Dit was dié ervaring wat Paul aangespoor het om by die sopkombuis te gaan werk. Binne ’n paar weke was hy ten volle gerehabiliteer en het hy vrywillige werk gedoen by dieselfde sopkombuis waar sy lewe ten goede verander het. Destyds het Paul ’n kommerwekkende toename begin opmerk in die aantal jong en volwasse mans wat die sopkombuise besoek.

Paul het besluit om die nieregeringsorganisasie Hands of Honour te stig. Hulle werk uit ’n huis wat as ’n kantoor en veilige hawe dien wat daagliks ’n warm maaltyd en emosionele steun aan hulpbehoewendes bied.

Die program konsentreer nou daarop omwerk te maak van die uitdaging van werkloosheid, dwelmverslawing en misdaad. Soos Paul verduidelik: “Ons omskep vervalle geboue wat skuilplek aan dwelmverslaafdes en misdadigers bied, in veilig, aantreklike openbare ruimtes. Dit is wonderlik om ’n eertydse dwelmnes as groentetuin te sien dien wat die gemeenskap voed.”

Die organisasie het vele suksesverhale, soos dié van Leyton Fillies. Hy was ’n lid van die 26’s-tronkbende voor hy by Hands of Honour aangesluit het. Hy het nou ’n werk en help drie kinders in die gemeenskap deur hul skoolgeld te betaal.

Nog een is dié van Keith Petersen. Hy het eers as ’n hawelose man op die strand gewoon en bestuur nou sy eie tuindiens-onderneming. Hy onderhou nou sy vervreemde gesin en kleinkinders. Twee jaar gelede het hy sy eerste Vadersdagkaartjie in 15 jaar gekry.

Paul wil graag ’n herwinningsaanleg oprig. Daarvoor het hy geldelike en niegeldelike hulp nodig.

Dit is Paul se verhaal van hulp. As jy nog sulke stories wil lees, besoek www.youcanhelp.co.za.