Die luukse Stellenbosse huis waarin die Van Breda-paartjie en hul seun twee jaar terug vermoor is, is verkoop.

Nadat die eiendom in Goske-straat wat aan Merwood Consultants behoort het waarvan Martin van Breda die eienaar was vir meer as ’n jaar in die mark was, is dit vir R5,8 miljoen verkoop, het ’n eiendomsagent gesê.

Die egpaar se seun, Henri (21), verskyn Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof op drie aanklagte van moord, een van poging to moord en een van dwarsboming van die gereg.

Sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), en sy broer, Rudi (22), is Dinsdag 27 Januarie 2015 in die vroeë oggendure met ’n byl vermoor.

Sy suster, Marli (17), het die aanval oorleef, maar ernstige breinbeserings opgedoen. Sy ly aan retrogade geheueverlies en dis nog onduidelik of sy enigiets sal kan onthou van wat daardie oggend gebeur het.

Henri is 17 maaande ná die moord in hegtenis geneem. Die Nasionale Vervolgingsgesag het gesê dit was om te verseker dat wanneer die saak hof toe gaan, daar sterk bewyse teen hom sal wees.

Hy is uit op borgtog van R100 000.

Die vierslaapkamerhuis, wat as ’n “moderne Kaapse argitektuur styl huis” beskryf word, is in 2014 in Merwood Consultants se naam gekoop. Die eiendom van 865m² het vier badkamers en ’n swembad. Dit was toe gelys as R4,6 miljoen en later vir R6,2 miljoen in die mark geplaas.

De Zalze se huiseienaarsvereniging het kort ná die moorde in ’n verklaring gesê ’n ondersoek na die landgoed se sekuriteitstelsel het gaan bewyse gevind dat daar met die omheining gepeuter is nie.

“De Zalze-landgoed in in 2000 gestig en in die 14 jaar sedertdien is geen ernstige misdaad aangemeld nie. Die aanval word dus as ’n ongewone, geïsoleerde voorval beperk tot die betrokke eiendom beskou”.

Volgens die webtuiste spog die landgoed met ’n gholfbaan, wynkelder, restaurant en die Kleine Zalze and Winelands-gholflodges.

Bron: News24