“Dit is ’n nagmerrie.”

[caption id="attachment_174465" align="alignnone" width="600"]Henri van Breda buite die hof. Foto: Gys Visser Henri van Breda buite die hof. Foto: Gys Visser[/caption]

So beskryf ’n hegte vriend van die Van Breda’s die De Zalze-bylmoordsaak, wat tans in die Kaapse hooggeregshof onderweg is.

Die vriend, wat anoniem met Huisgenoot.com gesels het, ken Henri en sy familie al baie jare.

Henri staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord. Sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), en ouboet, Rudi (22), is op 27 Januarie 2016 grusaam met ’n byl vermoor. Sy suster, Marli, het ernstige kopwonde opgedoen tydens die voorval, maar het oorleef.

“Ek is in twee geskeur. Ek weet nie wat daai aand gebeur het nie. Ek weet net hy kon dit nie gedoen het nie.”

Hy sê vir Henri se familie is dit ook baie moeilik.

“Die meeste van die familie staan ten volle agter hom. Ons is dit almal eens – hy is ’n liefdevolle en saggeaarde kind; hy het dit eenvoudig nie in hom nie.

“Daar is van die familie wat nie hul steun gegee het nie, wat net gesê het ‘ons sal bid vir hom’. Dit is vir my ’n jammerte, maar ek blameer hulle nie.”

Hy het vertel hoe ’n hegte gesin hulle was, en hoe die saak hom nagte wakker hou.

Hy gesels ook so dan en wan met Henri self.

“Natuurlik is dit vir hom ’n moeilike ervaring. Maar jy kan maar net kyk hoe hy by die hof rondstap – hy is vol selfvertroue. Hy kruip nie weg nie en weet hy het niks om weg te steek nie.”