Van die wrede moorde in Januarie 2015 waarin Martin, Teresa en Rudi van Breda dood is tot Henri van Breda se hofverskyning op 9 September 2016 - hier's 'n tydlyn van elke groot gebeurtenis in die bylmoordsaak wat die nasie so geskok het.

Januarie 2015

tragedie van mooi gesin

Martin, Teresa en Rudi van Breda word die oggend van 27 Januarie 2015 dood in hul huis op die De Zalze-gholflandgoed gevind. Henri (21), die jongste seun van Martin en Theresa, het net geringe beserings tydens die aanval opgedoen en sy suster, Marli (17) het breinbeserings opgedoen ná haar hoofslagaar deur 'n byl afgekap is.

Henri het destyds aan die polisie gesê ’n onbekende man het die gesin met ’n byl aangeval. Marli kan volgens berigte niks onthou van dit wat daardie nag gebeur het nie.

Volgens ’n opsomming van die polisie was die gesin die aand van 26 Januarie tuis en dat bure “harde stemme” vanuit hul huis gehoor het. Henri het sy meisie om 04:42 die oggend van sy selfoon af gebel, maar sy het nie geantwoord nie.

Volgens die opsomming het hy drie minute daarna noodnommers gegoogle en eers drie ure later, om 07:12, die nooddienste gebel.

Eben Potgieter, voorsitter van die huiseienaarsvereniging by De Zalze, het destyds gesê een van die bure se huiswerker het Henri buite die huis gesien staan en op sy selfoon praat. Sy beweer ook sy het bloed op hom gesien.

Februarie 2015

stil en eenkant

Henri is ná die aanval deur sy oom en tante, André en Sonja du Toit, ingeneem terwyl sy suster in die hospital aangesterk het.

Maart 2015

Net die beste sorg vir Marli

Marli is twee maande ná die aanval vanuit die hospitaal oorgeplaas na ’n rehabilitasiesentrum. Henri van Breda is na bewering nie toegelaat om sy suster in die sentrum, waar sy 24 uur onder bewaking was, te besoek nie, het ’n verpleegster destyds aan Huisgenoot vertel.

April 2015

Huisgenoot publiseer eksklusiewe foto’s van Henri waar hy op ’n Sondagnamiddag kaalvoet saam met sy voogde en niggie op die strand by Bloubergstrand in Kaapstad stap. Volgens ’n vriend van die familie het Henri sy voogde, Sonja en André du Toit, se huis twee weke vantevore verlaat en het na bewering na ’n gastehuis, omtrent 2 km van sy voogde se huis af, getrek.

Volgens die bron het die eienaars van die gastehuis hom nie herken nie en die jongman het aan hulle vertel sy ouers bly in Australië en hy is slegs op besoek aan Kaapstad.

Junie 2015

Bylmoordhuis tyd vir nuwe hoofstuk

Die Van Breda’s se huis op die De Zalze-Gholflandgoed is in die mark vir R6,2 miljoen. Dit ten spyte van die feit dat huisie in dié landgoed gewoonlik vir tussen R10 tot R12 miljoen verkoop word. Die dubbelverdiepinghuis is behoorlik skoongemaak ná die moord, maar daar was nog heelwat goed wat aan die gesin behoort het in die huis.

Augustus 2015

sterker na die moord

Huisgenoot gesels eksklusief met Narita du Plessis, Teresa van Breda se suster, oor die oomblik toe sy gehoor het haar suster, swaer en hul oudste seun is wreed vermoor. Volgens haar staan die familie agter Henri en hulle glo nie die stories wat oor hom versprei word nie.

“Hy’s ’n pragtige kind wat nooit so iets sou kon doen nie. Die polisie het tot vandag toe nog nie gesê Henri word as ’n verdagte beskou nie – hy word slegs as ’n ooggetuie beskou," het sy gesê.

Januarie 2016

Foto’s van Marli word geneem waar sy ’n somervakansie in Maputo, Mosambiek, geniet saam met familie, en volgens haar tannie hoop sy om in die 2016 akademiese jaar na die universiteit van Stellenbosch te gaan. Die polisie het op vrae oor waarom daar nog geen vordering in die saak gemaak is nie, gesê hul ondersoek na die moorde is nog nie afgehandel nie.

April 2016

a new start for henri

Henri word by ’n sjefskool in Soutrivier gekiek en daar word beweer hy het ingeskryf vir ’n jaarkursus by dié kookinrigting wat sowat R96 000 kos. Die 21-jarige Henri was voorheen vir ’n kursus in fisika ingeskryf, maar hy het dit ná die moorde laat vaar.

Junie 2016

My Henri%27s not a killer

Henri gee himself aan die polisie oor en hy word aangekla van drie moorde (op sy ma, Theresa, sy pa, Martin, en sy broer, Rudi) en een klag van poging tot moord (op sy jonger suster, Marli). Henri se meisie, Danielle Janse van Rensburg, voer ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot waarin sy sê sy glo hy is onskuldig.

September 2016

Henri verskyn op 9 September 2016 die eerste keer in die Kaapse hooggeregshof waar die voorverhoor van sy moordverhoor afskop.

- Saamgestel deur Lindsay de Freitas