As jy Ansolet Rossouw van Bloemfontein ses maande gelede gevra het hoe sy haar Septembermaand gaan deurbring, sou sy waarskynlik vir jou vertel het sy het skoolwerk, maats en netbal wat haar besig hou.

[caption id="attachment_139123" align="alignnone" width="600"]Fotograaf: Fanie Nel, FANJAM. Fotograaf: Fanie Nel, FANJAM.[/caption]
Min het die 16-jarige skoonheid geweet sy gaan binne weke deur die modewêreld opgeraap word en haar buitelandse debuut maak – nogal op die gesogte Italiaanse modehuis Dolce & Gabbana se loopplank. “Ek is in Maart vanjaar ontdek toe Fanie Nel, ’n modelagent, ’n foto van my op Instagram gesien het,” vertel sy per e-pos aan Huisgenoot uit die modehoofstad Milaan. “Ek was in my skooluniform op die foto. Hy het my gekontak en gevra om modelwerk te begin doen.”

Gou weer ?? #reunion

A photo posted by Ansolet Rossouw (@ansolet_rossouw) on

Ansolet is ’n gr. 11-leerder aan die C&N Meisieskool Oranje in Bloemfontein. Kort voor lank het Fanie en sy span by FanJam vir Ansolet voor die kamera gekry om haar eerste foto’s te neem. Sy het die afgelope Sondag in Dolce & Gabanna se vertoning verskyn. Sy het ook in vertonings vir Tod’s en Francesco Scognamiglio geloop en pryk in die mees onlangse uitgawe van die tydskrif Marie Claire. Op mode-blogs gons dit omtrent oor dié nuwe Suid-Afrikaner op die toneel. “’n Pragtige meisie! Sy het werklik my oog gevang by Dolce & Gabbana,” skryf ’n gebruiker op die blog thefashionspot.com. “’n Uitsonderlike nuwe Suid-Afrikaner!” besing nog iemand haar lof.

“Die lekkerste deel van modelwees is om te reis en mense uit alle wêrelddele te ontmoet. Die moeilikste deel is die modelle wat teen mekaar meeding en die druk wat daar op ’n mens is om ‘perfek’ te wees,” verklap sy. Sy sê die Suid-Afrikaanse skoonheid Candice Swanepoel is haar rolmodel in die bedryf. Candice is een van die onderklere-ontwerper Victoria’s Secret se modelle, wat as “angels” bekendstaan. “Ek het ook al een van Victoria’s Secret se ‘angels’ ontmoet, Sara Sampaio. Dit is tot dusver my hoogtepunt,” sê Ansolet.

Fanie en James Emanuel – nog een van Ansolet se bestuurders – sê sy het die “X-faktor”, wat sekere modelle bo ander laat uitstaan. “Sy is mooi, maar ook uniek en het uitsonderlike gelaatstrekke. Haar lyf is ook mooi in verhouding en haar vel en hare is baie mooi.”

“Die belangrikste ding wat ek in Milaan geleer het, is om net jouself te wees en getrou te wees aan wie jy is, want dit is wat jou gaan help uitstaan. ’n Mens moenie toelaat dat negatiwiteit jou beïnvloed nie.”