Valiant was daardie dag op ’n American Airlines vlug op pad na Chicago om te gaan werk aan sy TV-reeks oor sy blues-reis deur Mississippi, skryf hy op sy Facebook-blad.

“Ek het die vorige nag van die Kaap af Londen toe gevlieg, en vandaar die aansluitingsvlug na Chicago gehaal. Daarvandaan sou ek tot in Memphis vlieg, waar die filmspan my moes oplaai."

“Ons reis sou dan padlangs aanrol tot in Greenville, vir my eerste optrede op ’n regte egte Mississippi Blues Festival,” vertel hy. 

Met sowat vyf uit die agt vlugure agter die blad op pad Chicago toe, is die vliegtuig se liggies skielik afgeskakel.

“Dames en here,” het die stem oor die interkom gekom, “dit is die kaptein wat praat. Luister asseblief baie mooi: Ons het ’n noodgeval en kan nie die Amerikaanse lugruim binnegaan nie. Ons gaan omdraai en binnekort land op ’n Kanadese lugmagbasis, genaamd Goose Bay."

“Wees asseblief daarvan verseker niks skort met die vliegtuig nie. Ek sal later verduidelik. Bly asseblief in u sitplek en volg die vlugpersoneel se aanwysings,” vertel hy.

Valiant vertel hy het langs ’n man met halitose gesit, die vliegtuig moes twee uur om die lugmagbasis sirkel om brandstof vry te stel en toe moes hulle 10 uur lank op die aanloopbaan wag.

Hy vertel hoe hulle in ysige koue in die nag na ’n saal geneem is met net die klere wat hulle aangehad het en hul handbagasie. Die passasiers het op ’n grootskerm-TV die dag se gebeure in New York sien afspeel.

“Ons is spoedig goed gevoer en twee-twee by kamers in die barakke ingedeel. Ons het beddegoed, tandeborsels, handdoeke en gidse uit die plaaslike lugmaggeledere gekry om ons by te staan. ’n Paar internetlyne en agt internasionale telefoonlyne is kosteloos aan ons beskikbaargestel. Ons rasend bekommerde families het deurmekaar gehuil en gelag van verligting toe ons hulle een- een in die hande kry en gerusstel,” vertel hy.

Valiant vertel ’n hoogtepunt in die paar dae op die lugmagbasis was toe ’n soldaat die mense roep om die noorderligte te aanskou. 

“Ek kan seker woorde soos ‘sprokie’, ‘onbeskryflik’ en ‘skouspelagtig’ gebruik, maar dis nie naastenby voldoende om die volle omvang en impak van daai nag te beskryf nie. Eisj,” vertel hy.

Ná nog ’n nag is die Amerikaanse lugruim oopgestel en kon Valiant en die passasiers Chicago toe vlieg.