[caption id="attachment_113928" align="alignnone" width="600"]Gerhard se vrou Zelri sê daar was geen rede om onraad te vermoed nie. Foto: Verkaf Gerhard se vrou Zelri sê daar was geen rede om onraad te vermoed nie. Foto: Verkaf[/caption]

Gerhard se vrou, Zelri, vertel hul vertroue in hul medemens is byna onherstelbaar geskend nadat hul bespreking vir vakansieverblyf op Uvongo aan die Natalse suidkus deur die mat geval het.

“Ek het reeds in November bespreek,” vertel sy aan Huisgenoot. “Ek het op Facebook gevra of iemand weet van lekker billike, troeteldiervriendelike verblyf daar naby en toe word ek op die spoor van ’n vrou gesit wat glo ’n huis daar besit.”

Zelri is van hierdie vrou vertel deur ’n vriendin wat die verblyfplek voorgestel het. Zelri het die vrou, toe aan haar bekend as Gerda Maree, gekontak en die nodige reëlings begin tref.

Lees ook: Pasop vir vakansieverblyfslenters!

“Ek en 'Gerda' het oor WhatsApp gesels. Sy het vir my foto’s van die huis gestuur, en dit het ideaal gelyk. Sy het al my vrae flink beantwoord en was baie behulpsaam,” vertel Zelri.

[caption id="attachment_113957" align="alignnone" width="600"]Die area in Uvango waar die huis is wat 'Gerda' aan hulle uitverhuur het. Die area in Uvango waar die huis is wat 'Gerda' aan hulle uitverhuur het.[/caption]

Kort daarna het sy die bespreking bevestig en solank ’n eerste deposito betaal.

’n Maand later, en sowat ’n week gelede, het Zelri weer kontak met "Gerda" gemaak om te hoor of hulle dalk ’n dag vroeër as aanvanklik beplan kan arriveer. “Ek het ook die tweede vereiste deposito oorbetaal,” vertel sy.

Sy het egter niks verder van haar gehoor nie. “Eers let ek op my WhatsApp’s gaan nie meer deur na haar toe nie; toe word e-posse ook nie beantwoord nie,” onthou Zelri.

Dis toe dat sy op die Facebook-groep Bekostigbare Vakansie-selfsorgverblyf gaan vra of mense iets weet van "Gerda" en die vakansieverblyf wat sy so verkwansel.

Spoedig het die terugvoer ingestroom van ander mense wat in soortgelyke omstandighede ingeloop is. Dit kom toe ook op die lappe dat "Gerda" onder verskeie skuilname, waaronder “Christa Beeslaar” en “Christa Taylor”, sake doen. Niemand is doodseker wat haar regte naam is nie.

“Ons is gewoonlik baie privaat mense,” sê Gerhard oor die hele aangeleentheid, “maar ons voel ons moet mense waarsku.”

“Ons is gelukkig; ons kon alternatiewe verblyf betyds gereël kry, maar soveel ander mense is nie so gelukkig nie.”

[caption id="attachment_113940" align="alignnone" width="600"]Gerhard sê hulle is gelukkig om alternatiewe verblyf so gou op te spoor. Foto: Verskaf Gerhard sê hulle is gelukkig om alternatiewe verblyf so gou op te spoor. Foto: Verskaf[/caption]

“Party mense spaar heeljaar vir hul Desembervakansie en sal nie nog verblyfkostes kan bekostig nie,” voeg Zelri by. Sy vertel dat sy inderhaas vroeër vandeesweek op Ramsgate alternatiewe verblyf vir haar en Gerhard en hul honde gevind het.

Lees ook: Maak hierdie Desember dubbel seker

Hulle het intussen veilig aangekom en kuier daar tot kort voor Kersfees voor hulle weer terugkeer na Johannesburg. Gerhard het ook Saterdag ’n vertoning in die omgewing.

“Die nuwe verblyf kos ons nou wel drie keer duurder,” sê Zelri mismoedig. Sy verklap hulle het sowat R2 500 aan "Gerda" oorbetaal.

“Ek sal beslis nie weer verblyf op dié manier oor die internet bespreek nie,” erken Zelri. “’n Mens moet beslis nie alles glo wat mense jou vertel nie.”

  • Petrus Malherbe