In vandag se lewe is alles gejaagd en onmiddellik beskikbaar; nou is dit ook die geval met borsvergrotings. . .

Ontmoet die “instabreast”; soutoplossing word by die borste ingespuit, wat dit 24 uur lank groter maak. Dit duur net 20 minute.

“Die liggaam absorbeer die oplossing,” sê dr. Norman Rowe, die plastiese chirurg van Manhattan wat die operasies uitvoer. “Dit is vir die vrou wat nie tyd het vir inplantings nie.”

Dit sal jou elke keer tussen R27 943 en R39 120 uit die sak jaag, en dr. Rowe sê hy kan ’n vrou se borsmaat met ’n grootte en ’n half laat groei. Maar dit is nie sonder risiko nie; pasiënte kan kneusplekke, infeksie, senuweeskade of hematoom opdoen.

Dr. Rowe werk nou aan iets wat effe langer hou. “Dit is immers net 24 uur,” het hy aan ABC News gesê. Hierdie “vakansieborste” hou die hele feestyd en gee ook die vrou ’n beter idee van hoe dit is om groter borste te hê.

“Jy kan 3D-beelde gebruik en inplantings in bra’s sit, maar dit is iets anders om te voel hoe dit werklik voel en hoe dit voel om met die nuwe borste saam te leef.”

Hy mik ook verder: “Dit kan vir meer as borste gebruik word; mans kan dit dalk by hul kuite of borskas inplant,”

- Megan Bursey

BRONNE: ABCNEWS.COM, MEDICALDAILY.COM, NORMANROWEMD.COM