TERWYL die kleingoed al na die somervakansie begin uitsien, bekommer veral werkende ma’s hulle oor hoe hulle die kinders die heeltyd gaan besig hou.

Dis nie maklik om alles te behartig nie, maar dis nie onmoontlik nie, sê die kenners.

“Dis belangrik dat werkende ma’s nie skuldig voel omdat hulle nie ál hul tyd saam met hul kinders kan deurbring nie,” sê Melanie Hartgill, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg.

“Kinders moet hul eie verveling leer hanteer. Hulle kan die tyd verwyl deur te lees, kunswerke te maak, goed te bou of aan projekte te werk.”

Hier gee kenners raad oor hoe werkende ma’s die mas kan opkom.

By wie kan ek my kinders los?

“Met ouer kinders moet jy reël dat hulle by ander kinders kan gaan speel of kuier, sê Claire Minnaar (36), die hoof van Momtrepreneur, ’n blog vir werkende ma’s. Sy het twee seuns, Ethan (6) en Jake (3).

“Met jonger kinders moet jy uitreik na mense wat jy kan vertrou. As jy dit kan bekostig, stel ’n oppasser of ’n gekwalifiseerde versorger aan.”

Hiermee kan jy op vriende en familie se aanbevelings staat maak, sê Claire.

Nog ‘n blogger, Tanya Kovarsky (38), beveel speelafsprake vir jong kinders aan, met ‘n oppasser wat ‘n wakende oog oor die kinders .“Die kinders kry kans om met mekaar te speel terwyl die kinderversorgers of oppassers beurte maak om hulle dop te hou,” verduidelik Tanya, die ma van ‘n vyfjarige seun en bestuurder van die blog, Rattle and Mum.

Nog ‘n opsie is speel- en kleuterskole wat vakansieprogramme vir hul leerders aanbied, sê sy.

Kan ’n familielid na my kinders kyk?

“As jy jou kinders by ’n familielid los, maak seker hulle is bekwaam,” sê Claire. “Dit is byvoorbeeld sinneloos om’n hiperaktiewe kind by ’n ouma te los wat skaars kan rondbeweeg.’’

Dis belangrik dat jou kinders van die mens hou. “Dit sal verseker dat almal gelukkig is. Sorg dat jy al die kontaknommers het van wie ook al na jou kinders kyk en sorg dat hulle jou in ’n noodgeval kan bel.”

Sê vir die familielid wat jy van dié verwag, sê Brett Adam, van Beyond Potential, ’n diens wat ouers hul kinders se opvoeding help verryk. “Onthou, tieners kan verantwoordelik wees en aan jou verwagtings voldoen of nie heeltemal nie. Stel dit daarom duidelik  wie jou huis mag besoek, watter speletjies veilig is en hoe lank hulle mag televisie kyk.”

As jy ’n vakansieprogram oorweeg wat by ’n skool of ander instelling aangebied word, benader dit soos wanneer jy ‘n gewone skool sou kies, sê Tanya.

Kyk na:

-        Hoeveel kinders daar vir elke versorger is

-        Die noodhulpgeriewe

-        Die benadering tot dissipline en sorg

-        Of peuselhappies en maaltye voorsien word

-        Die aktiwiteite wat aangebied word

Laat jou reëls en riglyne by die mens wat in beheer is. “As jou kinders byvoorbeeld bedags slaap, sorg dat hulle dieselfde slaaptyd kry, sê wanneer en wat hulle moet eet en waaroor die versorgers hulle moet bekommer en waaroor nie,” sê Claire.

Wat is die alternatiewe?

“Net omdat jy nie bedags by die huis is nie, beteken dit nie jou kinders sal nie ook saam met jou pret hê nie,” sê Claire. “Daar is tyd in die naweek en wanneer jy saans by die huis kom. Benut dit ten volle.”

Maak intussen gebruik van ander hulpbronne:

-        Doen navraag by skole in jou buurt.

-        Wees op die uitkyk vir kampe of kunsklasse in jou gebied – gaan kyk aanlyn wat beskikbaar is.

-        Praat met vriende of kollegas met kinders van dieselfde ouderdom as joune . “Baie van hulle sal in dieselfde bootjie wees en hulle weet dalk van nuttige moontlikhede,” sê Claire.

Nuttige wenke

-         “Maak ’n lys van prettige goed wat jou kinders binne en buite kan doen en kry alles reg daarvoor,’’ sê Claire. Haar seuns speel graag buite, maar hou ook van skilder, teken of ’n speletjie op die Xbox speel, vertel sy.  “Dit hoef glad nie baie geld te kos nie, maar jy moet ’n plan hê.’’ Die kinders kan al hierdie dinge doen terwyl ’n versorger of oppasser ’n ogie hou.

-        Vra jou werkgewer of jy in die vakansietyd van die huis af kan werk, beveel Claire aan. “Doen ‘n voorlegging en dek al die vrae wat hulle dalk kan vra, want dit wys jy is goed georganiseerd en weet wat jy doen.”

-        Tanya beveel aan dat jy al vandeesmaand kuns- en handwerkstelle koop waarmee die kinders projekte in die vakansie kan aanpak.