Die vakansie is hier, maar moenie dink ure voor die televisie is jou enigste opsie om jou kroos besig te hou nie. Wees kreatief en beplan ’n lekker uitstappie saam met jou kind; ’n lekker dag hoef jou nie duisende rande uit die sak te jaag nie. Hier is ’n paar voorstelle wat as inspirasie kan dien.

’n Paar algemene voorstelle

  1. Gaan hou piekniek in ’n parkie naby jul huis. Betrek jou kind by die inpak van jul piekniekmandjie deur hulle byvoorbeeld te vra om worsies en stukkies kaas op tandestokkies te help inryg. Of vat papierborde saam wat hulle kan versier deur daarop te teken.
  2. Vind uit watter vakansieprogramme jou plaaslike biblioteek beplan. Biblioteke het dikwels wonderlike aktiwiteite en leeshoekies wat kleingoed ure kan besig hou sonder dat dit jou enigiets uit die sak jaag.
  3. Doen saam met jou kind ’n goeie daad of vrywilligerswerk. Julle kan byvoorbeeld saam ’n tehuis vir bejaardes gaan besoek en vir die inwoners ’n tuisgemaakte kaartjie en ’n paaseier gee. Gesels met jou kind oor hoekom julle dit doen en hoor hoe hulle wil of kan help.

Lekker goedkoop opsies in jou stad:

KAAPSTAD

  • Die Kompanjiestuin is heeldag oop en toegang is gratis. Kinders kan na hartelus verken en sal definitief ’n eekhoring of drie te siene kry. ’n Ander gratis buitelugopsie is die Groenpunt-park.
  • Die Bugz-gesinspeelpark in Kraaifontein is ’n heerlike speelplek. Daar is roeibootjies, vierwiel-motorfietse, ’n speelgoedtrein, klimrame en sandputte om die kleingoed besig te hou.
  • Die Warrior-speelgoedmuseum in Simonstad is goedkoop en oud en jonk sal hulle verlustig in dié versameling outydse speelgoed soos pophuise, karretjies en teddiebere.
  • “Grot-gholf” (Cave Golf) by die V&A Waterfront is ’n miniatuurgholfbaan met vele interessante hindernisse om julle besig te hou.

DURBAN EN OMGEWING

  • Die People’s Park by die Moses Mabhida-stadion het yslike grasperke en ’n speelarea vir kinders jonger as 12 jaar. Vir ouer kinders is daar ook geplaveide areas om skaatsplank of fiets te ry. Toegang is gratis.
  • Die hele familie kan by Fun World vermaak word en toegang is boonop gratis. Met roomys, spookasem en kabelkarre kan jy die besonderse mooi uitsig geniet, terwyl die kinders hulle gate uit geniet by die pretpark.
  • Nog ’n lekker opsie is die Durban Ysbaan. Die Ysbaan bied verskillende aktiwiteite vir verskillende ouderdomsgroepe aan. Jy kan jouself gate uit geniet, of jy ’n beginner is of nie. Toegang beloop R40 per persoon.

JOHANNESBURG

  • Die Wits-planetarium gee jou en jou kinders die geleentheid om die heelal ’n bietjie te verken. Die planetarium bied ’n “Sky Tonight”-vertoning (elke Vrydagaandaand om 19:30) en ’n “Space Travel”-vertoning spesiaal vir kinders tussen 5 en 8 jaar (elke Saterdagoggend om halfelf) aan. Kaartjies beloop R35 vir kinders, R50 vir volwassenes en R35 vir ’n groepsbespreking. Klik hier vir meer inligting.
  • Die Dieretuinmeer is ’n heerlike buitelugbestemming vir jou en jou kinders. Daar is baie piekniekplek en ’n lekker paadjie vir fietsry. En watter kind hou nie daarvan om eende te voer nie?
  • ’n Ander lekker opsie vir ’n gesinsuitstappie is Bunny Park aan die Oos-Rand (naby die Lakeside-winkelsentrum in Benoni). Daar is mak hasies, donkies, koeie en bokke wat met die hand gevoer kan word. Vat jul eie wortels saam of koop dit daar. Toegang is gratis. Besoek Gauteng.net vir meer inligting.

Slim planne by die huis

As ’n uitstappie nie ’n opsie is nie, het ons heerlike planne vir tuisbly. Loer hierna:

  • Bak en brou saam met jou kind. Klik hier  vir ’n lekker resep.
  • Stof dié kaartspeletjies af vir ure se vermaak. Kliek hier vir idees.
  • Kyk hier wat julle kan maak met items wat net in die huis rondlê.

- Suzaan Hauman

Foto: flickr.com

ctx0417_2725_eastercampaign_600x450_digitorial_huisegenoot