Hoe werk vaderskapverlof in Suid-Afrika?

Suid-Afrika het een van die bes ontwikkelde regstelsels te wêreld; werkers het verskeie regte. Maar wat vaderskapverlof betref, is ons nog agter. Pleks van vaderskapverlof moet pa’s gesinsverantwoordelikheidsverlof neem.

Wat is gesinsverantwoordelikheidsverlof?

Dié soort verlof gee ’n werknemer jaarliks drie dae betaalde verlof. Jy kan dit neem met jou baba se geboorte, wanneer jou kind siek is of met die dood van ’n nabye familielid. Maar jou werkgewer is geregtig op bewyse van jou verantwoordelikheid, soos ’n mediese sertifikaat. As jy meer as vier maande by een maatskappy is en meer as vier dae per week werk, is jy geregtig op drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof.

Kan pa’s verlof kry nadat hulle ’n kind aangeneem het?

In Suid-Afrika is daar geen statutêre verlof vir die aanneem van ’n kind nie. Daar is wel ’n reg op versekeringsvoordele vir verlof vir aanneemdoeleindes, maar net een ouer kan aansoek daarvoor doen, en die kind moet jonger as twee wees.

Die verlof-kontrolelys

As jy verlof vir neem vir die geboorte van jou kind, is dit slim om vooruit te beplan. Gebruik dié nuttige kontrolelys:

  • Hou al jou verlofdokumente in ’n vouer. Maak ook seker jy het afskrifte van alles.
  • Vra rond by mans wat reeds so iets ervaar het. Vra vrae soos:

  1. Hoe het jy jou verlof gestruktureer?
  2. Watter reëlings het jy by die werk getref vir jou verantwoordelikhede in jou afwesigheid?
  3. Hoe het jy ná die tyd weer by die werk ingeskakel?
  4. Kon jy voor of ná die geboorte enigsins ’n buigbare werkrooster reël?

  • Verskaf bewyse, soos ’n mediese sertifikaat of statutêre verklaring, as jou werkgewer dit vra.
  • Bespreek reëlings met jou werkgewer oor enige gelde waarop jy dalk geregtig kan wees.

Hoe jy sonder verlof van hulp kan wees

  • Maak tyd: Maak tyd saam met jou baba deel van jou roetine ná werk. Sit die baba in ’n stootkarretjie en gaan stap ’n ent. Jy kan ook vir hulle lees.
  • Wees geduldig, positief en ondersteunend: ’n Nuwe ma is amper heeltyd uitgeput. Doen net wat jy kan om doeke omruil, voeding of badtyd makliker te maak. Dit sal jou maat ’n ruskans gee, en jy en jou baba kry alleentyd.
  • Wees ’n borsvoed-maat: Sodra die roetine vasgestel is, kan jy jou baba met uitgepompte borsmelk voer. Jou maat sal jou ewig dankbaar wees vir die ruskans.
  • Vat die nagskof: Sien in die nag om na die baba se behoeftes; jou maat doen dit deur die dag.
  • Gee drukkies: Doen dit elke keer dat jy die kans kry. Dit sal julle albei troos.
  • Beproef ’n baba-massering: Babas reageer op aanraking, en ’n massering is ’n eenvoudige manier om hulle te troos en te laat ontspan.
  • Ruil doeke om: Jy sou seker wou hoop dit is net ma se werk, maar dit is ook ’n kans om nader aan die baba te raak.
  • Sing vir hulle: Sing is een van die beste maniere om ’n baba se aandag te kry. En dit maak nie saak hoe goed jy sing nie

- Janine Nel

Bronne: labourguide.co.za, leavenetwork.org, nortonrosefulbright.com, solidaritylegalservices.co.za, theguardian.com, babycenter.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.