Sir Elton John is op sy gelukkigste noudat hy pa is.

Die 66-jarige sanger sê die ervaring om saam met David Furnish, met wie hy in 2005 getroud is, pa te word van Zachary (2) en Elijah (8 maande), is beter as al sy treffers saam.

Hy het oorstelp gesê: “Ek was nog nooit gelukkiger as nou nie, met David en ons twee wonderlike seuns.”

Op die vraag wat die beste foonoproep van sy lewe was, het Elton geantwoord: “Toe ek en David hoor ons surrogaat verwag Zachary.”

Die sanger het verder gesê die geboorte van sy kinders, wat deur dieselfde surrogaatma in die lewe gebring is, was die merkwaardigste ervaring van sy lewe.

Toe hy gevra word wat elke man moet doen voor hy sterf, het Elton geantwoord: “Die geboorte van ’n kind aanskou.”

Die popikoon het sy partytjieleefstyl laat vaar sedert hy saam met David nes geskop het, maar sukkel nog om sy kooplus in bedwang te hou. Elton het aan die Britse tydskrif GQ gesê: “Deesdae is dit net geld uitgee. Ek het alles anders laat staan. My grootste oordaad is mooi goed koop.”