Dit was 2005 en Elizabeth Taylor was pas terug van ’n vakansie in Hawaii waar sy in ’n haaihok in die see geduik het.

“My seun het my gebel kort nadat ek teruggekom het,” het sy gesê. “Hy het gesê: ‘Ek is in die supermark en daar is ’n opskrif wat sê Liz kwyn vinnig.’?”

Sy het haar oë gerol. “Lyk dit nou regtig of ek vinnig wegkwyn? Ek is vas van plan om hoegenaamd nie weg te kwyn nie!”

Maar nie eens Hollywood-legendes is onsterflik nie. Op die ou end kon haar hart net nie meer nie. Sy is vroeg in Februarie met hartversaking in die Cedars Sinai-hospitaal in Los Angeles opgeneem, en op 23 Maart is die vrou wat eens as die mooiste op aarde beskou is, toe inderdaad weg.

Die aktrise met die viooltjiepers oë wat bekend was vir haar vele huwelike en ’n ikoon van ’n goue era in Hollywood was, is op 79 dood met haar vier kinders aan haar sy. Michael en Christopher Wilding, Liza Todd en Maria Burton is haar beste vriende, het sy eenkeer gesê.

Sy word ook oorleef deur 10 kleinkinders, vier agterkleinkinders en haar geliefde hond Daisy – die hond wat sy ’n vriend oorreed het om in haar laaste weke by haar hospitaalkamer in te smokkel.

Die nuus van haar dood het soos ’n veldbrand deur die wêreld versprei. Binne ’n uur het fotoagentskappe foto’s van Liz deur die jare op hul webtuistes geplaas – ’n pragtige 12-jarige in National Velvet; die smeulende ster van Cleopatra; ’n asemrowende skoonheid op die strand; ’n plakkaatmeisie met ’n melkwit vel, milde borsgleuf en slank middel.

Daar was ook minder vleiende foto’s, bewyse van ’n lewe wat nie net deur roem en rykdom gekenmerk is nie, maar amper ewe veel deur plaaggeeste en pyn: ’n slordige en oorgewig Liz in die greep van alkohol- en dwelmverslawing; geswel en bleek in ’n rolstoel; Liz met bloedbelope oë in klere wat te styf pas en oordadige juwele tydens ’n aandjie uit.

Die doodsberigte is geplaas voor jy Richard Burton kon sê. En hoewel almal haar agt huwelike, twee Oscars (vir Butterfield 8 en Who’s Afraid of Virginia Woolf) en gesondheidsprobleme noem, word haar filantropiese sy ook in herinnering geroep.

Nadat haar jare lange vriend die akteur Rock Hudson in 1985 aan vigs gesterf het, het sy haar daaraan toegewy om geld vir die stryd teen vigs in te samel. Sy het haar status as beroemde vir ’n goeie doel ingespan, nes sy haar beroemde kykers en voorliefde vir blink goed gebruik het om tot aan die einde die aandag te trek.

Kenneth Turan van die Los Angeles Times onthou hoe hy haar kort voor sy die laaste keer hospitaal toe is, by ’n partytjie gesien het.

“Baie beroemdes probeer op die agtergrond verdwyn. Nie Elizabeth Taylor nie. Sy het aangetrek om die aandag te trek, haar ongelooflike oë beklemtoon, groot diamante aan haar vingers gedra en geweet sy was ’n ster. Sy het behae geskep in haar posisie. Sy sal gemis word.”

Kiek die ikoon in die Huisgenoot, 31 Maart 2011 met jou foon om Elizabeth Taylor op haar mooiste te sien.