Vir die eerste keer in jare gaan die Vaaldam binnekort 100 persent vol wees, het die departement van water en sanitasie gesê ná die goeie buie wat die afgelope tyd in die gebied uitgesak het.

Geweldig baie reën het geval en verskeie gebiede het selfs skade gehad. En hoewel reën steeds die volgende paar dae verwag kan word, sê prof. Kobus Botha, weerkenner van Pretoria, sal dit nie “naastenby so baie wees soos ons die afgelope tyd gehad het nie”.
Geen reën word in die Wes-Kaap (’n winterreënvalgebied) verwag nie. Die goeie reën beteken moontlik ook die einde van waterbeperkings in Gauteng, dele van die Noord-Vrystaat en Mpumalanga. Terwyl die dam verlede week 64,4 persent vol was, het dit teen Donderdagmiddag reeds tot 84,34 persent gestyg.
Waterbeperkings moet egter steeds gehoorsaam word tot die departement dit amptelik afskaf, aldus Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie.
Verlede Oktober, toe die dam se waterinhoud op slegs 27,3 persent gestaan het, het die departement waterrade versoek om 15 persent minder water aan plaaslike owerhede te lewer. Verbruikers moes ook 15 persent bespaar.

“Damvlakke in Limpopo toon ook reeds tekens van verbetering.”

Tog vra die departement mense moenie water vermors nie en steeds gehoor gee aan die beperkings wat deur hul onderskeie munisipaliteite ingestel is.