Wanneer hy die dag sy tasse by 10 Downing Street indra, sal dit met een groot wens wees: dat sy landgenote hom as doodgewone ou Dave beskou. So ’n vis-en-tjips-ou wat veerpyltjies speel met ’n glas Guinness-bier byderhand op die kroegtoonbank. Maar dit sal maar bars gaan.

Teken in op Huisgenoot

Want die man wat dae gelede Brittanje se nuwe premier in ’n koalisieregering geword het – die jongste in 200 jaar – is allesbehalwe gewoon.

Om mee te begin, is David William Donald Cameron (43), die kêrel wat die Konserwatiewe Party ná 13 jaar weer die meeste stemme in die Britse verkiesing laat wen het, van adellike afkoms. En dan is daar sy 39-jarige vrou, Samantha Gwendoline Sheffield, ’n verlangse familielid van koning Charles II.

En in ’n land wat hom midde-in ’n ekonomiese storm bevind en weens ernstige belastingtekorte sy besteding net so drasties soos in die Tweede Wêreldoorlog moet besnoei – en waar meer as 1,3 miljoen mense die afgelope jaar hul werk verloor het – is daar min om te vier.

Dan kan iets so arbitrêr soos Cameron se deftige aksent swaar op die oor van die beleërde minder gegoede klasse val.

“Cameron se vel is soos ’n baba s’n – sy hemde is glad ge-stryk en hy praat asof daar albasters in sy mond is,’’ meen Alec Marguilis, ’n 29-jarige petroljoggie van Noord-Londen se Finsbury Park. “Ek het maar £80 (sowat R900) ekstra per maand, of minder. Wat doen ek as my dogter siek word? Hy het geen idee van ons probleme nie.’’

Hy doen sy bes om die regte ding te doen, maar soms boemerang dit ook maar lelik.

So het David byvoorbeeld met sy fiets van sy huis in Notting Hill in Wes-Londen parlement toe begin ry om vir die groenes te bewys die Tories dink ook aan die omgewing. Maar toe blyk dit sy chauffeur ry met sy aktetas en skoene per motor agterna...

Die Tories se immigrasie-beleid is baie strenger as die Arbeiders s’n, en dit kan vir Suid-Afrikaners nog moeiliker word om daar te gaan werk.

David se oudste kind, Ivan, is met serebrale gestremdheid gebore en is in Januarie verlede jaar op ses weens komplikasies dood.

David en Samantha is in 1996 getroud. Hulle het nog twee kinders, Nancy (6) en Arthur (4), en verwag nog een in September.

Tussen hulle twee word hul familieskatte op meer as £30 miljoen (sowat R338 miljoen) geraam.