Ons moet afskop en vra is Toya Delazy jou regte naam?

Nee, dis Latoya Buthelezi, maar dis ’n baie lang naam. Ek wou dit korter maak toe speel ek daarmee en kom uit by Toya Delazy.

Jy het die musiekbedryf met mening getref. Hoe het jy jou groot deurbraak bereik?

Musiek was nog altyd deel van my lewe en ek het geweet ek wou ’n loopbaan daarvan maak. Ek het begin optree en eendag het ’n plaaslike vervaardiger, Markus Els, my by die Winston Club in Durban hoor sing en my genooi om ’n paar liedjies in die ateljee op te neem. Dit het my demo geraak en kort daarna het Sony Music vir my ’n kontrak aangebied. Die res is geskiedenis.

Jou liedjies Pump It On en Love Is In The Air was groot treffers. Hoe sou jy jou musiek beskryf

Sielvolle electro-hop en pop.

Waaroor gaan Love Is In The Air?

Dit gaan oor liefde vind en as jy iets wil hê, kan jy dit kry as jou hart daarin is.

Beskryf jouself in drie woorde.

Liberaal, nuuskierig, opwindend.

Waar het jy grootgeword en het jy musiek studeer?

Ek is van eMahlabathini in KwaZulu-Natal maar het as kind baie gereis. Ek het jazzklavier by die Howard-kollege in Durban studeer.

Wat het jou musikale reis laat vlam vat? 

Ek het vanaf nege jaar klassieke klavier begin speel en het toe musiek begin komponeer.

Jy het jou ma, Princess Lethuxolo Buthelezi [die politikus Mangosuthu Buthelezi se dogter], in 2008 in ’n motorongeluk verloor. Het sy jou musiekloopbaan ondersteun?

Sy het my altyd met alles wat ek doen ondersteun. Maar ek het ongelukkig eers ná haar dood begin sing.

Wat inspireer jou?

Die verskillende situasie wat ek beleef. Ek is ook geïnspireer deur vordering. Om iets te doen wat net werk, maak dat ek wil aanhou om ’n impak te maak.

Met wie sou jy graag ’n duet wou doen?

Frank Ocean, hy is fantasties. Ek wil baie graag met hom werk.

Jy is deesdae omtrent bedrywig. Wat doen jy vir ontspanning?

Ek hou van tyd saam met familie en vriende spandeer. Ek hou van kook en inkopies doen. En ek is mal oor Modern Family kyk.

Jy het reeds ’n kenmerkende modesin. Hoe sou jy dit beskryf?

Ek sou sê dis ’n mengsel van antiek-sjiek en straatdrag. Ek hou van vroulike pakke. suits My voorkoms is straatwys en elegant en werk vir elke geleentheid.

Wat irriteer jou grensloos?

Ek haat onbeskofte, onkundige mense wat verkeerde aannames maak. Ek hou ook nie van uitsmyters by klubs nie.

Is jy by enige liefdadighede betrokke?

Ek ondersteun die Princess Mandisi-gesondheidsorgeenheid in Ulundi. Dis ’n sentrum wat sorg vir mense met MIV en Vigs. Dis vernoem na my tante wat dood is aan vigs [Toya se oupa is die IFP-leier Mangosutho Buthelezi]. Daar is ook ’n nuwe skuiling in Durban wat sorg vir haweloses en ek besoek dit gereeld.

Wat’s volgende vir Toya?

Ek wil oorsee reis en my musiek met die internasionale gehoor deel. Maar dis belangriker om my aanhang in Suid-Afrika te laat groei. Baie mense ken my liedjies wat op die radio speel, maar ek wil meer optree sodat mense my kan leer ken.

As jy vir jouself op hoërskool een ding kon sê, wat sou dit wees?

Ek sou sê leer uit elke situasie en bly getrou aan jouself.