Hoe is die orkes gestig?

Jono: Durban is nie so groot nie, en ons het deur gemeenskaplike vriende ontmoet. Ons het omtrent ’n jaar lank saam geoefen en geskryf voor ons op ons huidige vorm besluit het. Ons eerste optrede was in April 2011.

Hoe het julle ’n naam gevind?

Josh: Ek en Brad was een aand in Johannesburg saam met vriende by ’n vulstasie. Een van die meisies by ons was ’n ballerina, en sy het ons vertel hoe mededingend die bedryf is, en hoe lelik die meisies teenoor mekaar kan wees. Ons het haar begin spot en gevra of hulle bendes het en of ons daarvoor moes oppas. ’n Paar maande later moes ons op ’n orkesnaam besluit, en het Gangs of Ballet gekies. Ons dink dis koel.

Was daar druk op julle met die maak van hierdie album ná die sukses van jul eerste drie enkelalbums (Breaking the Silence, This Love en Hello Sweet World)?

Josh: Die druk was meer die feit dat ons goeie momentum geskep het en dit nie wou verloor deur ’n swak album uit te reik nie.

Wat was die inspirasie vir die album se titel?

Jono: Wat die lirieke betref, en in ons persoonlike lewens, is daar baie dinge waaroor ons taamlik seker is, maar net so is daar ook areas wat “grys” is. Ons is gewoonlik bang vir die onbekende, die grys, en hierdie album gaan daaroor om daardie grys tye te verstaan en te vier, omdat hulle so ’n belangrike en groot deel van ons bestaan uitmaak.

Watter orkeste inspireer julle?

Josh: Muse, The Killers, Aqualung, Hiromi, Coldplay,The Beatles… daar is baie.

Doen julle ander werke daar in Durban?

Josh: Drie van ons is voltydse orkeslede. Hardus het ’n praktyk as chiropraktisyn. Hy behandel ons dikwels wanneer ons toer, wat fan-flippen-tasties is!

Wat omtrent die ander ouens sal aanhangers verras?

Josh: Jono het ’n ernstige opgaarprobleem.

Jono: Josh en Brad (hulle is broers) hou omtrent net so baie van Xbox speel as van branderplankry. Hardus neem volgende maand deel aan die Highveld 94.7 Cycle Challenge. Ek is ’n professionele liggaamsbouer.

Is enige van julle getroud of in verhoudings?

Josh: Brad en Hardus is getroud en Jono en ek is in verhoudings.

Jul musiek is al met Coldplay en Snow Patrol vergelyk?

Josh: Albei is goeie orkeste, dus kla ons nie. As ons die helfte so goed soos Coldplay kan wees sal ons trots wees.