“Dit is belangrik om daarop te let dat strafregtelike stappe verskil van dissiplinêre prosesse en deur ander wetgewing gereguleer word,” sê Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwysdepartement.

“By ’n strafregtelike klagte moet ’n saak bo alle redelike twyfel bewys word en in ’n dissiplinêre saak word dit op ’n balans van waarskynlikheid geskoei. Al is die aanklagte in die strafregtelike saak teruggetrek, beteken dit nie dat dit ook op die dissiplinêre saak van toepassing is nie.”

In Maart vanjaar is die onderwyseres aangekla van molestering, verkragting en ernstige aanranding van ’n meisie wat in daardie stadium 14 jaar oud was. Die voorvalle het glo in 2014 en 2015 in die hoërskool se koshuis plaasgevind waar die onderwyseres ingewoon het.

Volgens Geoffrey is die doel van die skorsing om te verseker dat die betrokke leerlinge beskerm word teen moontlike verdere emosionele en fisieke pyn en dat daar nie ingemeng word met getuies nie. Dit word ook gedoen om seker te maak die departement se naam word nie in oneer gebring nie.

Die meisie se ouers het vroeër vanjaar in ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot vertel dat sy in Januarie uit die bloute toevalle begin kry het wat soortgelyk is aan dié wat epilepsielyers kry.

Mamma, daar is nog iets. Juffrou het my verkrag

“Ons het nie geweet wat met ons kind aangaan nie,” het die ma vertel. “Ons het haar na neuroloë en breinspesialiste in Kimberley en Bloemfontein geneem en ná ’n hele klomp toetse het hulle vasgestel sy het nie epilepsie nie; dis toevalle weens trauma,” het die ma vertel.


Die meisie het kort daarna haar kategese-onderwyser vertel sy is geslaan en gesny, en nadat sy by drie sielkundiges was, het sy haar ouers alles vertel. “Ek onthou net ons het in die kamer gesit en sy het gesê: ‘Mamma, daar is nog iets. Juffrou het my verkrag.’ ”

Kapt. Jacques September, woordvoerder van die Upington-polisiekantoor, wou nie uitwei oor die redes dat die saak tydelik van die rol geskrap is nie en het gesê die besluit rus by die vervolgingsgesag. “Die ondersoek duur voort.”

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Noord-Kaapse vervolgingsgesag, het laat blyk dat hy in ’n later stadium op die saak sal reageer. 

Die onderwysdepartement sal besluit of daar enige verder stappe teen die onderwyseres gedoen sal word wanneer hul ondersoek afgehandel is.