Die vermoede bestaan sy het die gebied verlaat. Ten spyte van uitgebreide lug- en landsoektogte, ook deur die nag, was daar Woensdag nog geen teken van haar nie.

Op die dag van haar verdwyning het Charlotte ’n ovaalvormige bril, ’n ligblou kortbroek, ’n swart-en-bruin truitjie, ’n moulose swart toppie en bruin sportskoene aangehad.

“Ons is 95 persent seker sy is nie in die gebied waar ons na haar gesoek het nie. Dit beteken sy het van die berg afgekom en is óf uit die gebied weggeneem óf het self van die gebied weggegaan,” het Johan Marais, woordvoerder van Wildernis Soek en Redding gesê.

Op 20 Maart, die dag voor haar verdwyning, het sy herinnerings aan haar en haar man, Chris Nikoi, se huwelik van langer as 22 jaar gedeel.

Sy beskryf hoe ’n veel jonger sy senuagtig die twee woordjies “I do” geuiter het en hoe Chris haar hande gedruk het “asof jy wou sê ‘moenie bekommerd wees nie. Alles gaan oukei wees’. Jy was natuurlik reg (soos jou T-hemp in die foto ook sê).”

Luidens berigte wou die paartjie aanvanklik na Robbeneiland gaan, maar hulle kon nie kaartjies kry nie. Daarna het hulle ’n taxi na Platteklipravyn geneem vir ’n wandeling.

Chris het glo vooruit gestap omdat sy na bewering gesê het sy is te stadig vir hom.

Charlotte se laaste interaksie op Facebook was om 11:12 om Menseregtedag. Aanvanklike berigte dui ook aan dat sy om 13:00 ’n SMS aan haar man gestuur het om te sê sy is besig om terug te stap.

Sy het egter nooit opgedaag by die plek waar hulle twee afgespreek het om mekaar weer te kry nie. Tot nou toe is daar net die doodse stilte.

Chris is die streekdirekteur vir die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram in suider-Afrika. Hy is in Johannesburg gestasioneer.

Enigiemand wat meer lig op Charlotte se verdwyning kan werp, word gevra om sers. Isaacs by 021-461-8067 of 072-560-2624 te bel.

Bron: news24.com