Die episode met Unathi se stemwerk is die eerste keer op Jeugdag (16 Junie) uitgesaai, maar as jy jong Disney-aanhangers in die huis het, sal jy weet dit is nie die laaste keer dat dit uitgesaai word nie. Natuurlik is die ster se driejarige dogter dol oor die feit dat haar ma op haar gunsteling-TV-program gehoor kan word. Unathi gesels met SuperMa oor die balans tussen haar loopbaan en haar dogter en 15-jarige seun.

Is dit die eerste keer dat jy stemwerk doen?

Dit was die eerste keer. Ek was so opgewonde daaroor. Ek het nooit gedink ek sou so iets doen nie; dit was ’n wonderlike geleentheid en wonderlike eerste keer.

Het dié ervaring gemaak dat jy nog stemwerk vir tekenprente wil doen?

Dit iets wat ek graag weer sal doen; dit het my blootgestel aan ander loopbaangeleenthede.

Het jy ’n gunstelingprogram op Disney Junior?

Buiten Doc McStuffins hou ek ook van Mickey Mouse Clubhouse. Die gedans, kleure en aksie maak dit my gunsteling.

Hoe bestuur jy jou tyd tussen jou werk en kinders?

My kinders kom eerste. Ek is baie streng oor tydsbestuur; ek is baie streng oor my tyd. Ek is die tipiese sokkerma: Ek is daar by elke wedstryd, en moedig hulle luidkeels aan. Wanneer ek by die werk is, is ek by die werk, en wanneer ek by die huis is, is ek by die huis; daar is geen werkoproepe of -e-posse nie. Ek het in die oomblik leer leef.

Het jy ’n kinderoppasser wat jou help?

Ek het, ja. Ek het ’n wonderlike ondersteuningsnetwerk en ’n wonderlike simbiotiese verhouding. Ek dink moderne ma’s se grootste swakplek is dat hulle nie om hulp wil vra nie. My ma het my anders geleer, om soveel ondersteuning moontlik te kry.

Is jou kinders bewus van jou roem?

Nee, my kinders weet nie hul ma is beroemd nie. Hulle weet hul ouers werk in die kommunikasiebedryf. Soms noem die kinders by my seun se skool my tannie Unathi; ek dink hy begin besef nou wie ek is.

Het jy enige raad vir ma’s wat tans hul loopbaan en gesin moet balanseer?

Laat die skuldgevoelens gaan; jy is wie jy is. Jy kan dit alles doen, maar jy moet eers jy wees: Jaag jou drome na. Jy kan alles hê, maar nie alles gelyk nie. Vertrou jouself en vertrou in jou grootsheid.

- Londiwe Dlomo

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.