Dié keer was dit die einde van die Johannesburgers Sugar and Spice se pad.

Braaimeester Celeste Raynard (47) sê sy sou haar deel van die prysgeld gebruik het om haar boek te voltooi en uit te gee, terwyl braaimaat Chantal Geerdes (43) van die geld aan ’n diereskuiling wou skenk. Hulle deel nie net ’n passie vir kos en reis nie; hulle deel ook ’n vriendskap.

Dit is hul eerste keer in die kompetisie en hulle was gereed vir die groot toets – van hul kookvernuf, fiksheid, intellek, integriteit en om die onbekende aan te gryp. Maar die laaste uitdaging was te veel vir die vriende met die leuse: “Deur dik en dun, siekte en sonde.”

In gisteraand se aflewering is die deelnemers water toe in vlotte met koelhouers vol lekkernye uit die spens. Hulle het twee ure lank rivieraf geroei tot hulle ’n pragtige rivierstrand bereik het waar hulle hul uitdaging sou voltooi. Hulle is toe gevra om drie soorte braaipizzas te berei, maar ongelukkig vir Sugar and Spice was dit die laaste gereg wat hulle vir die beoordelaars sou maak.