Justin Bonello, die aanbieder van Ultimate Braai Master, het mense oor die afgelope twee seisoene reeds anders laat dink oor wat op ’n oop vuur gaargemaak kan word. En vanjaar is geen uitsondering nie.

Die derde seisoen van Ultimate Braai Master begin om 20:30 op Donderdag 11 September op e.tv. Kykers gaan vanaand sien hoe die 15 spanne van oor in die land aankom by die Monkey Valley-oord in Noordhoek, Kaapstad. Dis die begin van ’n epiese kulinêre reis van 70 dae en 9 000 km vol uitdagings.

Vanjaar se kompetisie gaan straf wees!

Een van die 15 spanne wat kykers vanaand gaan ontmoet, is die Simply Sisters van Johannesburg. Maar moenie jou laat flous omdat Busisiwe Dhladhla (32) en Thembeka Ngcobo (31) vroue is nie; hierdie twee is daar om te wen. En hul mantra is: “We shall overcome!”

As hulle koning kraai, wil Busisiwe ’n Shisa Nyama open en Thembeka ’n klein koffiekroeg.

Feiteblad:

Die aanbieder, Justin Bonello

Hy is ’n kok en reisiger en is lief vir die lewe. Justin Bonello het dit reggekry waarvan ons almal droom – dit waarvoor hy die meeste omgee, is die spil waarom sy lewe draai.

Hy is die ou wat skerts by die braai, wat die vingers van die een hand brand en met ’n bier in die ander hand staan; of hy is in die kombuis en eksperimenteer vreesloos met geure en bestanddele. Dit werk dalk nie altyd nie, maar Justin sê: “Ons maak almal van tyd tot tyd foute, maar soos met die lewe, gaan dit oor nuwe dinge probeer, nuwe vriende maak, en veral pret.”

As gesoute aanbieder en vervaardiger, en ’n stigter van een van Suid-Afrika se grootste vervaardigingsmaatskappye, Cooked in Africa Films, het Justin sy drie gunstelinggoed in sy werk gekombineer – suidelike Afrika, kos en vriende.

Die beoordelaar Bertus Basson

Van 19-jarige ouderdom het Bertus drie jaar in Londen deurgebring, waar hy die meeste van sy tyd by die Michelin-ster-bekroonde restaurant Chez Bruce deurgebring het.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy die restaurant Arabella Hermanus geopen as een van die sous-sjefs. In sy tyd daar het hy Suid-Afrika verteenwoordig in van die wêreld se beste kookkompetisies, insluitend die Bocuse d’Or, kulinêre Olimpiese Spele en Global Chefs Challenge.

Op 25 het Bertus die deure van All Things Culinary met sy medesjef en sakevennoot Craig Cormack oopgemaak. Dit het vinnig sukses behaal. Hul volgende projek, Overture Restaurant, het in 2007 die lig gesien en is in die skilderagtige Hidden Valley in Stellenbosch geleë. Bertus is in Februarie vanjaar deur die tydskrif Men’s Health aangewys as ’n Game Changer, een van Suid-Afrika se 20 mees inspirerende jong mans.

Die beoordelaar Petrus Madutlela

Petrus se kulinêre loopbaan het in van Suid-Afrika se grootste restaurante begin voor hy in 2010 Londen toe getrek het, waar hy in restaurante gewerk het soos die Savoy, Michelin-ster-bekroonde restaurant Chapter One in Kent, en hy was die hoofsjef van The Hengist, ’n roset-bekroonde restaurant naby Aylesford.

“Ek is so opgewonde om deel van die Ultimate Braai Master-span en ’n beoordelaar te wees in ’n kompetisie wat aanklank vind by my eie passie vir braai, die buitelewe en natuurlik die kreatiewe grense verskuif van wat op ’n oop vuur berei kan word,” sê Petrus.