Matt Fiddes sê hy is nie verbaas dat die Jackson-familie hul hofsaak teen AEG Live verloor het nie.

Matt, wat in 2002 ’n kort rukkie vir die oorlede popster gewerk het, het nog voor die saak vyf maande gelede begin het, al geraai wat die jurie gaan sê. Hy het gedink Michael se ma, Katherine, het ’n te groot hofsaak aangepak met te min bewyse. Katherine het AEG Live daarvan beskuldig dat hulle nalatig was toe hulle dr. Conrad Murray, Michael se dokter ten tyde van sy dood, aanstel.

Hy het op ITV se Daybreak gesê: “Sy is ’n lieflike vrou met ’n sagte hart. Ek is jammer vir Katherine omdat sy al so baie pyn beleef het.”

Die jurie, wat bestaan het uit ses mans en ses vroue, het binne net ses dae besluit Conrad was wel bevoeg om na Michael om te sien. Conrad is tans in die tronk vir manslag nadat Michael in 2009 aan ’n oordosis propofol dood is.

Katherine (83) en die Jackson-familie het beweer die maatskappy het Conrad se agtergrond nie behoorlik ondersoek voor hulle hom aangestel het nie. AEG Live het aangevoer hulle het niks te doen gehad met Michael se middelgebruik nie. Hulle het ook nie geweet Conrad gee Michael elke aand ’n dosis propofol vir slapeloosheid nie. Die medikasie word nie gewoonlik buite hospitale gebruik nie.

Conrad is vier jaar gevangenisstraf opgelê. Hy kan egter dalk al op 28 Oktober vrygelaat word vir goeie gedrag.