Altans, dis hoe dit behoort te wees. Maar in Junie verlede jaar het ’n Nederlander, Leonardus Bijlsma (55), en sy uitgeslape groepie bendelede hul eie noodsituasie ervaar. Terwyl hy aanvanklik voorgegee het hy is ’n ongeletterde nutsman, was hy in werklikheid die groep se staatmaker. Olof Schoon (38) en Richard Engelsbel (51) was deel van die arrogante groep wat die goede idee van noodvoertuie geheel en al misbruik het.

Dié drie is in Desember verlede jaar gevonnis: Schoon is 24 jaar tronk toe gestuur, Bijlsma 28 jaar en Engelsbel 18 jaar.
Die spulletjie het destyds soveel geld uit hul dwelmsmokkelary gemaak dat hulle regte ambulanse van nagenoeg 220 000 euro in Nederland aangekoop en omskep het in dwelmkoeriervoertuie, kompleet met gehuurde “pasiënte” en vir nog meer geloofwaardigheid, selfs gehuurde “paramedici”. Maar die pasiënte was nie siek nie en die paramedici het wel net geweet hoe om die uniform aan te trek.
Die bende het voorgegee hulle het Britse burgers namens versekeringsmaatskappye na Engeland teruggeneem. Vervalste dokumente vol spelfoute, met name en adresse van “pasiënte” was deel van die rookskerm waarvolgens hulle “siekes” na die Royal London-hospitaal vervoer het.
Een van die smokkelaars wat vasgetrek is, is Jonathan Floyd, ’n eiendomsagent van Manchester wat deesdae meer bekend sal wees vir sy smokkelvermoë as om huise te verkoop. Tydens sy inhegtenisneming is gevind sy BMW het ’n geheime kompartement gehad wat so breed soos sy motor was. Dit blyk hy sou £1 miljoen se dwelms ontvang.

Praat van arrogant. Hulle het selfs hul eie maatskappy-logo op die ambulanse gesit om dit nog meer na die ware Jakob te laat lyk.

Terwyl alles op die oog af in orde gelyk het, was die ambulanse toegerus met verskuilde kompartemente waarin onder meer kokaïen, ecstasy en tik vervoer is. Die kompartemente was boonop kleurgekoördineer in ooreenstemming met die dwelms wat binne verskuil was.

In een van die ambulanse alleen is 193 kg kokaïen (met ’n straatwaarde van £30 miljoen), 74 kg heroïen (£8 miljoen) en ecstacy-tablette van £60 000 gevind.

Nog ’n spreekwoordelike spyker in die dwelmdoodskis was ’n “handelaarslysie” wat in een van die ambulanse gevind is. Die naam “Gibbo” het daarop verskyn. Later is bevestig dat dit die bende se verspreider in Engeland was: James Gibson.

So is James Gibson in hegtenis geneem.

’n Verdere vier ambulanse is op twee verskillende persele in Nederland gevind. Daar word vermoed die bende het minstens 45 ritte na bestemmings in Essex, Londen, Manchester, Merseyside en die weste van Yorkshire in die noodvoertuie onderneem. Die straatwaarde van die dwelms wat op dié manier die land ingesmokkel is, word op minstens £1,6 biljoen (sowat R31,2 biljoen) geraam.

Dit is nie heeltemal duidelik hoe die bom gebars het nie, maar arrestasies het gevolg ná een van die ambulanse deur Britse polisie van die pad getrek is. Daarna is die hele petalje stadigaan oopgevlek.

Die Britse vleuel van die smokkelnetwerk is op 4 Julie gevonnis.

Dis hoe lank die Britse mans opgesluit gaan word:

James Gibson (56) – die verspreider in Engeland: 20 jaar

Darren Owen (48) – betrap met 10 kg kokaïen en heroïen in sy motor: 15 jaar

Richard Clark (36) – het die dwelms geberg, hitteverseëlde dwelmblokke is in sy huis gevind: 11 jaar?

Raymond Desilva (60) – koerier: 16 jaar

Petrit Kastrati: (41) – 17½ jaar

Bronne: bbc.com, manchestereveningnews.co.uk, telegraph.co.uk, itv.com, expressandstar.com