Toe het hy weer hard begin sink, so erg dat regt. Thokozile Masipa die hof verdaag het. Binne oomblikke was Oscar se broer en suster, Carl en Aimee, by hom om hom te troos.

Dié drama het hom vanoggend in die hooggeregshof in Pretoria afgespeel op Oscar se sesde dag in die getuiebank.

Die staatsaanklaer adv. Gerrie Nel het sy kruisondervraging vanoggend begin deur die dag ’n tema te gee: aanpassing van getuienis. “Om te wys jou weergawe is onwaarskynlik en onwaar,” het Gerrie gesê.

Gerrie het begin met die jeans wat op die duvet op die vloer gelê het. Hy het dit aan Oscar gestel dat Reeva ’n netjiese mens was, en buiten die jeans was al haar goed mooi bymekaar in haar oornagtas gepak.

“Is die rede nie dat sy wou loop en die jeans wou aantrek nie; dit is hoekom die jeans uit plek was,” het Gerrie gesê.

“Julle was albei wakker en daar was ’n rusie. Dit is die staat se saak.”

Gerrie het die res van die uur en ’n half voor die teepouse verskeie aspekte vir Oscar uitgewys wat volgens hom bewyse is dat hy sy weergawe aanpas. Een daarvan is verwant aan die waaier. Kol. Schoombie van Rensburg, die voormalige stasiebevelvoerder van die Boschkop-polisiekantoor, het getuig die waaier was by die deur toe hy in die kamer kom, en nie voor die bed soos Oscar beweer nie. Dit is nooit deur adv. Barry Roux tydens kruisondervraging aan Schoombie gestel nie.

Rakende die klankversterker se blou LED-lig wat Oscar met die jeans wou toemaak, wou Gerrie weet hoekom hy nie net die lig op die klankversterker afgesit het nie. En waarom het die ander liggies op die klankversterker hom nie gepla nie?

“Dit is omdat jou weergawe onwaarskynlik is. Jy wil ’n tydsfase skep om Reeva die tyd te gee om badkamer toe te gaan,” het Gerrie gesê.

Volgens Gerrie is nog ’n aanpassing dat Oscar in sy hoofgetuienis gesê het dat hy vir Reeva gefluister het om plat te lê en die polisie te bel nadat hy die geluid gehoor het. Vandag het Oscar gesê hy het beslis nie vir Reeva gefluister nie, maar het saggies met haar gepraat, en dit is hoekom sy hom nie geantwoord het nie; sy het hom gehoor en het geweet wat om te doen. Dit was ook vir Gerrie vreemd dat Reeva en Oscar, van die oomblik dat hy wakker geword het, geen gesprek gevoer het nie, nie eens toe hy opgestaan het om die waaiers in te bring nie.

Gerrie het ook Oscar se weergawe bevraagteken dat die geluid in die badkamer die venster was, want hy het nooit tydens sy borgtogaansoek die geluid geïdentifiseer nie.

Gerrie sal ná die teepouse met sy kruisondervraging voortgaan.

- Hilda Fourie