• Mei 2011 – ’n Motorneuronsiekte word voorlopig by Joost gediagnoseer. Dit volg nadat sy bekende doktersvriend, dr. Henry Kelbrick, tydens ’n naweek in Sun City ’n kragvermindering in sy regterarm opmerk.
  • Julie 2011 – ’n Amerikaanse motorneuronsiekte-spesialis, dr. Erik Pioro, van Ohio bevestig dat Joost aan amiotrofiese laterale sklerose (ALS) ly. “Dr. Pioro het bevestig dat Joost wel ALS het, wat hom ’n 80-persent-kans gee op ’n oorlewingstyd van twee tot vyf jaar,” het ¬dr. Jody Pearl, sy destydse neuroloog, in ’n verklaring gesê.
  • Augustus 2011 – Joost ondergaan stamselbehandeling om sy spiere te herstel wat tydens sy rugbyloopbaan beskadig is.
  • September 2011 – Hy begin moeilik praat. Veral wanneer hy gespanne is, sukkel hy om woorde te vorm.
  • November 2011 – Die J9-stigting word op die been gebring om ander ALS-lyers by te staan.
  • Desember 2011 – Joost vertel hy maak video’s vir sy kinders, sodat hulle wanneer hulle 18 jaar oud is, daarna kan kyk en hom onthou.
  • Hy kla ook dat sy vervreemde vrou, die sangeres Amor Vittone, hul kinders van hom af weghou.
  • Augustus 2012 – Joost erken die stamselbehandeling het misluk.
  • April 2012 – Hy begin bokserum gebruik om die ALS te behandel. Die middel is nog eksperimenteel, maar Joost skryf ná twee maande op die J9-stigting se webtuiste dat hy ’n verbetering in sy toestand kan sien. Hy kan nie self die serum inspuit nie, sy hande is te erg verswak.
  • April 2013 – Joost is so verswak dat hy soms ’n rolstoel en loopraam moet gebruik. Hy het ook hulp nodig om te eet. Hy sê hy’t vrede gemaak daarmee dat hy binnekort aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel sal moet word, en hy maak sy kinders gereed vir sy sterfdag deur hulle te vertel hy gaan dalk nou na liewe Jesus toe.
  • Junie 2013 – Joost begin sy behandeling by die omstrede terapeut Anton Neethling. Dit sluit ’n streng ontgiftingsproses en frekwensie-behandeling in. Vir die eerste keer lyk hy positief en sê hy het ’n paar maande gelede besluit om alles in die stryd te werp om gesond te word. In dieselfde tyd reik hy ’n boek uit, 99 Dinge Wat Ek Wil Hê my Kinders Moet Weet. Dis aan sy kinders opgedra en hy sê hy hoop dit help hulle om besluite te neem wanneer hy nie meer daar is nie.
  • September 2013 – Vroeg in die maand word ’n selfoonboodskap versprei wat sê Joost is oorlede. Ontstelde boodskappe stroom in na Huisgenoot se Facebook-blad, maar Joost stel gou sy aanhangers op Twitter gerus dat hy nog leef. Daarna sê hy in ’n onderhoud aan Huisgenoot dat hy nie net nog leef nie, maar dat hy genees is deur Anton se behandeling en dat sy senuwees nou net moet herstel.
  • Hy gebruik ook steeds die bokserum, maar erken hy weet nie of dit werk nie. Hy vertel verder dat sy en Amor se verhouding in ’n groot mate herstel is en dat hulle nou weer “soos man en vrou” is.

Bygewerkte bronne: Beeld.com, Channel24.com, Joost.co.za, Rapport.co.za

Lees meer in die Huisgenoot van 26 September 2013.