’n Britse tiener is lewenslank geskend nadat sy tydens ’n vakansie ’n tydelike tatoe gekry het.

Die sestienjarige Mary Bates was in Turkye met vakansie toe sy met swart henna ’n tatoe van ’n droomvanger bokant haar linkerenkel laat aanbring het. Sy het die tydelike tatoeëermerk ongeveer ’n week later laat opknap, maar tot haar skok het die plek begin swel en daar het etter uitgeloop.

Toe sy by die huis kom, is sy dokter toe. Dié het gesê sy moet vir brandwonde behandel word.

“Stukkies van my vel het begin afkom. Dit was eenvoudig weersinwekkend, want dit het soos rou vleis gelyk,” het Mary gesê. “Volgens die dokters wat brandwonde behandel, was dit die ergste swarthennabesering wat hulle nog teëgekom het.”

Die dokters het ná ’n reeks toetse bevestig die ink wat vir die tatoe gebruik is, bevat die chemikalie parafenielenediamien. Dit word gewoonlik in haarkleurstof gevind.

Die littekens op Mary se been sal nooit weggaan nie. Die tiener, wat modelwerk wil doen, wil ná skool haarversorging, teatergrimering en fotografie studeer. “As ek dit goed genoeg kan doen, sal ek hopelik my letsel kan verdoesel.”

Bronne: telegraph.co.uk, elitedaily.com