Ashton Kutcher sê die komende seisoen van Two And A Half Men sal die beste nog wees.

Die 35-jarige akteur is besig om voorbereidings te tref om die 11de seisoen van die sitkom te skiet. Hoewel hy geen idee het wat op sy karakter, Walden Schmidt, wag nie, is hy haastig om terug te keer werk toe.

Ashton het aan Access Hollywood gesê: “Ek begin oor ’n week met die program en ek is so opgewonde om terug te gaan werk toe. Elke Vrydag, wanneer ek die draaiboek kry, is dit soos om ’n geskenk oop te maak. Tot dan weet ek net so min soos die ander wat gaan gebeur.

“Ek kan sê dat almal gereed is om van hierdie seisoen die beste nog te maak. Dis die doelwit waarmee ons begin en ons gaan alles insit.”

Hoewel Ashton se medester Jon Cryer (48) as Alan Harper sal terugkeer, sal Angus T. Jones (19), wat die rol van Jake Harper vertolk, nie gereeld gesien word nie. Hy sal waarskynlik net gasverskynings maak.

Angus het verlede jaar teen die sitkom uitvaar en dit in ’n video saam met sy pastoor “vieslik” genoem. Hoewel Jon verras was, het hy gevoel hy was beter hierop voorbereid as Ashton omdat hy die onenigheid tussen sy vorige medester Charlie Sheen (47) en die vervaardiger Chuck Lorre (60) beleef het.

Jon het al gesê: “Dis surrealisties om deel te wees van verskeie internetherries. Toe die laaste een gebeur, het Ashton gelyk of hy ’n spook gesien het. Hy het gevra: ‘Het jy van Angus gehoor?’ Ek het gesê: Gaan dit goed met hom? Hy het gesê: ‘Op ’n manier,’ en my die video gewys.

“Aangesien ek die veteraan van die internetherries is, het ek net na Ashton gekyk en gesê: Wel, dink jy hy wil saamspan vir die span se geskenk?’ Dit was net die een ding ná die ander. My lewe het al baie vreemde wendings geneem. Ek is meestal net bly dat almal nog leef.”