Die grootoog-grapjas sal nooit weer sy oë so vir ons rol nie.

Twitter-boodskappe van bekendes het vanoggend op die internet gevloei nadat die nuus gebreek het dat Al Debbo op 87-jarige ouderdom in ‘n Bloemfonteinse hospitaal oorlede is.

“Sopas verneem Oom Al Debbo is oorlede. ‘n Groot seder het geval,” het Wicus van der Merwe geskryf.

“Rus in Vrede, Al Debbo – komedie-legende,” het die voormalige voorsanger van die Straatligkinders Bouwer Bosch ook geskryf.

Die geliefde sanger, komediant en akteur is sowat drie weke terug opgeneem om vir longontsteking behandel te word, berig Beeld.

Toe Huisgenoot Tempo laat verlede jaar by hom gekuier het, het Al se vrou Ansa gesê hy is eintlik ‘n baie gesonde man, behalwe vir sy longe. “Sy longe is net ‘n bietjie gedaan van al die jare se rook, maar hy drink nie medisyne nie. Hy is nie siek nie en word net weens sy longe vinnig moeg,” het sy vertel.

Al het in Bloemfontein grootgeword waar hy gereeld in sy Libanese ouers se winkel gewerk het. Afrikaans is sy derde taal na Engels en Libanees.

Hy was eers na skool ‘n loodgieter, maar het ‘n vermaaklikheidster geword nadat hy in 1948 ‘n landwye talentkompetisie gewen het.

Sedertdien het hy al in 19 flieks, waaronder Kom Saam Vanaand en Leon Schuster se Oh Schuks I’m Gatvol, gespeel. Hy het eers werklik bekend geword as sanger in 1968 met die treffers Sonbrilletjies en Hasie.

Volg Huisgenoot op Twitter.