Dis die derde soortgelyke voorval die afgelope agt dae, het plaaslike media Dinsdag berig.

Die vlug van die LaGuardia-lughawe in New York na die Palm Beach-lughawe in Florida is ontwrig toe ’n passasier in haar sitplek agteroorsit. Dit het ’n medepassasier kwaad gemaak, wat haar kop op die skinkbord gerus het wat aan die sitplek voor haar geheg is, berig die Daily News.

Die hewige rusie Maandagaand tussen die twee passasiers het die vliegtuig noodgedwonge in Jacksonville by ’n ander lughawe laat land.

Om in die snelgroeiende lugvaartmark voor te bly en hul wins te verbeter het lugrederye meer sitplekke op hul vliegtuie aangebring, wat beenruimte ál minder maak.

’n American Airlines-vlug van Miami na Parys is verlede Woensdag gedwing om onbepland in Boston te land nadat twee passasiers vasgesit het oor min beenruimte wat veroorsaak word deur sitplekke wat agteroorgesit word.

Nog ’n rusie oor ’n sitplek het ’n United Airlines-vlug van die Newark-lughawe na Denver gedwing om by die O’Hare internasionale lughawe in Chicago te land.

Die Amerikaanse federale lugvaartadministrasie kan ’n siviele boete van tot R263 000 hef vir passasiers wat oproerig is en ’n vlug ontwrig.