Meer as 200 miljoen mense gebruik Twitter. Dit is die plek waar jy die vinnigste kan uitvind wat die jongste nuus is. Jy kan kommentaar lewer op dinge en selfs net lukrake opinies lewer. Al kan jy op Twitter sê net wat jy wil, word op die webtuiste chillies.co.za voorgestel dat Twitter-gebruikers tog ’n paar etiekreëls, ook bekend as Twitiek, moet nakom.

  • Dink met elke twiet wat jou ouers, ouma en oupa of baas sou dink as hulle dié twiet lees. Met ander woorde, jou twiets moet bedagsaam en beleefd wees.
  • Moenie leuens of onbevestigde inligting twiet nie. Dit is hoe Twitter-vetes begin.
  • Mense wil nie weet wat jy elke minuut van elke dag doen nie, en mense wil nie weet van elke gedagte wat jy het nie, so moenie alles deel nie. As jy ’n Twitter-groentjie is: So vier of vyf twiets per dag is ’n goeie riglyn.
  • Moenie ’n pretbederwer wees deur byvoorbeeld te twiet wat aan die einde van ’n nuwe fliek gebeur nie. Almal wil dit self uitvind.
  • Moenie net skakels na jou werk toe plaas nie. Dis soos om jouself te bemark. Balanseer jou twiets met ander inligting wat niks met jou of jou werk te doen het nie.
  • Moenie goed op Twitter probeer verkoop nie. Twitter is nie ’n winkel nie.
  • Moenie meer as drie goed #hashtag nie.
  • Moenie ’n Twitter-vete begin nie. Die persoon wat so ’n vete begin, lyk nooit goed nie.
  • Niemand gee om hoeveel jy gedrink het nie en jy skryf nie soos ’n digter as jy dronk is nie, so moenie twiet as jy besope is nie.
  • Moenie skaam wees om mense te twiet met wie jy ’n belangstelling deel of mense wat jy interessant vind nie, maar moet ook nie elke keer dat jy twiet ’n antwoord verwag nie.
  • Maar wanneer mense op jou twiets antwoord of vir jou ’n boodskap vir jou stuur, antwoord hulle, anders gaan mense dink jy is afsydig.
  • Twitter gaan daaroor om jou persoonlikheid met mense te deel, so bly weg van geskeduleerde twiets.

Hilda Fourie

Twitter-terme wat jy moet ken

  • Avatar: Jou profielfoto op Twitter.
  • Twelebs: Gewone mense wat bekend is op dié sosiale netwerk. Hulle het baie volgelinge en selfs 'gewone' celebs volg hulle.
  • DM: Dit is ’n direkte boodskap. Jy kan vir iemand ’n privaatboodskap stuur sodat dit nie op hul tydlyn te siene is nie.
  • RT: Wanneer jy iemand anders se boodskap 'retweet'. Maak seker hul Twitternaam verskyn nog in die boodskap.
  • Hutsmerk (#): Dit word gebruik om ’n spesifieke onderwerp te 'merk' - jy kan ook volgens hutsmerke vir onderwerpe soek waarin jy belangstel.
  • #FF: Dit staan vir "Friday Follow". Jy kan vir jou volgelinge aanbeveel om ander te volg wie se twiets jy geniet. Jy moet natuurlik dadelik vir @huisgenoot volg!
  • Blok: Wanneer jy siek en sat is vir iemand, kan jy hulle blok. Jy sal nie meer hulle boodskappe sien nie en hulle sal ook nie toegang tot jou profiel hê nie.

Bronne: digitaltrends.com, webopedia.com,Twitter.com