’n Ierse mamma het dalk ’n nuwe rekord opgestel nadat haar tweeling 87 dae uitmekaar gebore is.

Die vrou, net bekend as Maria, het haar babas as “wonderwerkies” beskryf nadat sy op 1 Junie 2012 die lewe geskenk het aan haar dogter, Amy, en dié se sussie Katie drie maande later op 27 Augustus gebore is.

Maria, wat ook ’n 13-jarige dogter en 11-jarige seun het, het aan die Daily Mirror gesê: “Jy ervaar gewoonlik net blydskap met ’n baba se geboorte, maar in hierdie geval was dit bittersoet omdat hul lewe in gevaar was.

“Toe ek Amy vir die eerste keer vashou, het ek oor my maag gestreel en gebid. Ek wou net hê my dogters moes saam en gesond wees. Ek voel geëer dat ek twee sulke spesiale dogtertjies het. Ek is baie bly dat ons almal dit oorleef het.”