Volgens die lykskouing na die dood van ’n kind nadat sy ’n battery ingesluk het, kan niemand vir haar dood verantwoordelik gehou word nie, het Beeld Donderdag berig.

“Hoeveel keer het my eie kinders nie met batterye gespeel nie? Dit kon in my huis gebeur het,” het landdros Pierre Wessels by die landdroshof in Pretoria-Noord gesê.

Die tweejarige Alice Swanepoel is dood nadat batterysuur van ’n ronde battery wat sy ingesluk het, haar slukderm gevreet en ’n skeur in ’n slagaar veroorsaak het.

Haar ma, Ilse Swanepoel (25), sê sy het die kind in die laaste twee weke van haar lewe ’n paar keer dokter toe gevat vir ’n seer keel en bors. Sy meen die dokter kon oplettender gewees het, veral tydens die opvolgbesoeke.

Pierre sê dit is nie standaardpraktyk vir dokters om in sulke omstandighede X-strale te laat neem nie.

Ure voor haar dood op 19 Oktober verlede jaar het die meisie van Springs skielik begin opgooi terwyl sy ’n plaasspeletjie gespeel het. Haar ouers het gedink dit was van die aarbeie wat sy geëet het.

Toe hulle sien dit is bloed, het hulle met haar na ’n hospitaal in Pretoria gejaag, maar sy is oorlede.

Haar ma en pa, Shandre (30), weet nie waar die battery vandaan gekom het nie.

- Sapa