Luidens berigte het Lane Graves (2) Dinsdag in water van sowat 0,3 m diep rondgeplas toe ’n kaaiman (Amerikaanse krokodil, ook bekend as ’n alligator) hom gryp.

Sedertdien is onverpoos na hom gesoek. Bote, ’n helikopter en talle polisielede het aan die soektog deelgeneem. Ervare kaaimanvangers het ook hand bygesit.

A video posted by Allison (@allisondavies1) on
Sy liggaam is Donderdag ná ’n soektog van meer as 16 uur byna 14 me van die oewer af gevind.

Na wat berig word, is Lane deur die kaaiman verdrink. Jerry Demings van die polisie het sy ouers, Matt en Melissa Graves van Elkhorn, Nabraska, oor die vonds in kennis gestel. “Die gesin was natuurlik ontsteld, maar ook verlig dat sy liggaam ongeskonde gevind is.” Matt het vergeefs probeer om sy kind te red uit die kake van die 1,22-2,1 m lange kaaiman. Volgens Bill Wilson, ’n ooggetuie, het die aanval minder as 30 sekondes geduur. Minstens vyf kaaimans is gevang en oopgesny voor Lane se liggaam gevind is.

A photo posted by Justins Mom (@justinsmom) on

Nick Wiley, uitvoerende direkteur van die Florida-natuurbewaringskommissie, het gesê die kans is goed dat een van die vyf wel verantwoordelik was vir Lane se dood. Daar sal na tandmerke gekyk word om dit te bevestig.

Die tragedie is die eerste in sy soort sedert die oord 45 jaar gelede geopen het. Beeldmateriaal wys na bewering ’n seuntjie wat enkele weke tevore op dieselfde strand speel, asook besoekers aan die oord wat hul verbasing uitspreek oor die teenwoordigheid van kaaimans in die strandmeer by die oord.

George A. Kalogridis, president van Walt Disney World Resort, het in ’n verklaring gesê: “Daar is geen woorde vir die diepgaande hartseer wat ons vir die gesin en hul ondenkbare verlies voel nie. Ons is verpletter en hartgebroke deur hierdie tragiese voorval en doen wat ons kan om die gesin deur die moeilike tyd te help.”

Walt Disney World het intussen al hul Florida-strande en marinas gesluit. Al is daar waarskuwingstekens dat swem in die strandmeer verbode is, is daar geen waarskuwingstekens oor kaaimans nie.

Bronne: skynews.co.uk, abcnews.go.com, euronews.com