Op 26 Januarie het Daniel Johnson (31) ’n pleister uit ’n pak hidrokolloïede pleisters van Savlon op ’n snyplek aan sy dogter Jayda se skouer geplak. Op die pak word beweer dit “help voorkom littekens” en “bevorder vinniger heling”.

Die aanwysings op die pak was om die pleister ’n week lank aan te los. Maar ’n dag later het die Johnsons ’n skok ervaar wat hulle hulle nooit kon voorstel nie. Die pleister het op die een of ander manier deur die meisie se vel gebrand en sy het ernstige brandwonde en blase gehad. ’n Deel van haar rug het ook ontsteek.

“Ek het dit die Sondagoggend opgesit en toe ek dit die Maandag afhaal toe sy van die kleuterskool af kom, het ek gesien dit het haar verskriklik gebrand. Dit het gelyk of dit in haar vel ingebrand het. Op die pak het gestaan los dit vier tot sewe dae aan. Ek is bevrees dit sou tot by die been gebrand het as ek dit die volle sewe dae aangelos het.” Volgens Jayda se pa was sy “ten volle bewus” van die wond wat soos ’n tweedegraadse brandwond lyk. Hy voeg by dit lyk nie of sy baie seer het nie.

'Dit lyk nie of sy veel pyn daarvan het nie, wat my bekommerd maak dat haar senuwees dalk beskadig is.'

“Dit lyk nie of sy veel pyn daarvan het nie, wat my bekommerd maak dat haar senuwees dalk beskadig is.”

Tydens ’n doktersbesoek is bevestig Jayda het ’n ernstige allergiese reaksie ondervind wat waarskynlik deur die plakker van die pleister veroorsaak is. Die wond het ook ontsteek. ’n Kursus antibiotika is vir die meisie voorgeskryf en sy moes ’n verpleegster elke twee dae besoek om die verbande te laat omruil.

Al is die presiese oorsaak van Jayda se allergiese reaksie nog nie bepaal nie, is daar al berig dat die bestanddeel “penta eritritol ester van hidrogeneerde harpuis” by party gebruikers van hidrokolloïede wondbedekkings ’n allergiese reaksie veroorsaak het. Die bestanddeel word gebruik om pleisters klewerig te maak sodat geen ekstra band nodig is om ’n wond te verbind nie.

Jayda se gesin het ’n amptelike klag by Novartis Consumer Health ingedien. Dié onderneming besit Savlon.

’n Woordvoerder vir die onderneming het geantwoord: “Ons is bewus van die onlangse geval waar ’n pasiënt ’n velreaksie ondervind het op die aanwendingsplek van Savlon Hydrocolloid-wondbedekking. Pasiëntveiligheid is ons grootste prioriteit. Soos met enige NCH-produk, monitor en ondersoek ons die nadelige voorval en het ons die plaaslike gesondheidsowerheid in kennis gestel.”

Bronne: dailymail.co.uk, mirror.co.uk, news.yahoo.com, inquisitr.com