"Dit is nou ’n humanitêre krisis,” het Mbangwa Xaba, woordvoerder van die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling, aan News24 gesê.

“Hierdie mense is gestrand en het nêrens om te slaap of eens iets om te eet nie."

Die groep het geglo hulle is in Tswane as deel van ’n werwingswerksessie om tot die weermag toegelaat te word.

“Hierdie mense, van verskeie ouderdomsgroepe, is reeds van verlede jaar af hier,” het Xaba gesê.

Volgens Xaba het ’n man die niksvermoedende “rekrute” tussen R200 en R300 vir sy dienste gevra.

Hy het die beweerde projek glo vanuit sy huis in die Wonderpark-gebied in Pretoria bedryf.

“Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gebruik nie 'n middelman nie,” het Xaba oor die beweerde werwingsprojek gesê.

“Ons wag dat die slagoffers om klagte lê, waarna die polisie en die departement van maatskaplike ontwikkeling hulp sal verleen met regstoepassing.”

Volgens Xaba het die departement bewus geraak van die slenter nadat inwoners van die omgewing begin kla het.

Bron: news24.com