Die tweede suksesvolle penisoorplanting in Suid-Afrika – en die derde ter wêreld – is in Tygerberg se Akademiese Hospitaal in Kaapstad uitgevoer. “Die pasiënt vaar merkwaardig goed,” het prof. André van der Merwe, hoof van die afdeling urologie aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die aankondiging van hul en die Tygerberg-hospitaal se tweede sukses van dié aard gesê. Die 40-jarige pasiënt het sy penis 17 jaar gelede weens ’n verbroude besnydenis verloor. Sy identiteit word om etiese redes beskerm.

Maar op 21 April het hy sy nuwe penis in ’n marathon-operasie van sowat nege en ’n half uur ontvang.

Baie ingewikkelde mikrochirurgie waarin aartjies van dunner as ’n millimeter byvoorbeeld betrokke was, beteken die man sal gevoel in sy nuwe penis hê.

“Hy is beslis een van die gelukkigste pasiënte wat ons al in ons afdeling gesien het. Daar is geen tekens van verwerping nie en dit lyk asof al die herverbinde strukture goed werk,” sê Van der Merwe.

Die pasiënt sal na verwagting binne ses maande ná die oorplanting alle urinêre en reproduktiewe funksies van die orgaan herwin.

Die “beduidende kleurverskil” – die oorgeplante penis is wit en die ontvanger swart – sal ná ses tot agt maande waarskynlik deur mediese tatoeëertegnologie aandag kry, het die mediese span verduidelik. Die ontvanger sal berading en sielkundige hulp ontvang. Sulke pasiënte sê ’n penisoorplanting “is soos om ’n nuwe lewe te kry”, vertel dr. Amir Zarrabi van die afdeling urologie, ook ’n lid van die oorplantingspan. Wat hulle as die verlies van hul manlikheid beskou, “veroorsaak geweldige emosionele en sielkundige ellende”. “Ek sien gewoonlik gevalle van gedeeltelike of totale amputasie in Julie en Desember – die tydperke wanneer tradisionele besnydenisse uitgevoer word.” Groot kleurverskil tussen penis-ontvanger se vel en donor-penis @Netwerk24Berig pic.twitter.com/x9LKEPVHTL

Van der Merwe en sy span het die eerste suksesvolle penisoorplanting in Suid-Afrika en die wêreld sowat twee en ’n half jaar gelede uitgevoer. Daardie ontvanger se penis moes afgesit word ná lewensbedreigende komplikasies weens ’n tradisionele besnydenis.

Hy het ook verkies om nie geïdentifiseer te word nie.  Daardie pasiënt “vaar geestelik en liggaamlik uitstekend”, sê Van der Merwe. “Hy lei ’n normale lewe. Sy urinêre en seksuele funksies is weer normaal en hy het bykans vergeet hy het ’n oorplanting gehad.”

Die onlangse prosedure maak deel uit van ’n konsepproefstudie om ’n kostedoeltreffende penisoorplantingsprosedure te ontwikkel wat in ’n tipiese teateromgewing in ’n openbare SA hospitaal uitgevoer kan word. Danksy lesse wat uit die eerste oorplanting geleer is, kon Van der Merwe en sy span die koste van die tweede prosedure aansienlik sny.

Die grootste uitdaging vir hierdie studie is orgaanskenking. “Die gebrek aan penisoorplantings sedert ons die eerste een in 2014 uitgevoer het, is grootliks weens die tekort aan skenkers. Dit is dalk makliker om ’n orgaan te skenk wat ’n mens nie kan sien nie, soos ’n nier, as iets soos ’n hand of penis,” sê Van der Merwe. “Ons is uiters dankbaar jeens die skenker se familie, wat nie net die penis geskenk het nie, maar ook hul geliefde seun se niere, vel en korneas. So verander hulle die lewe van talle pasiënte . . .”

  • Die tweede oorplanting van dié aard – die eerste in Amerika – is verlede jaar in Massachusetts uitgevoer op Thomas Manning, ’n 64-jarige bankkoerier wat sy penis weens kanker verloor het.