Het die skoolstelsel jou in die steek gelaat? Sien jy nie meer kans vir skool nie? As jy ja hierop antwoord, is daar ’n nuwe werklikheidsreeks wat dalk vir jou die tweede kans kan gee wat jy verdien.

Die vervaardigers van dié nuwe TV-werklikheidsreeks is op soek na deelnemers tussen 15 en 18 jaar oud wat wat óf ’n skoolgraad gedruip het óf nie vir tersiêre opvoeding gekwalifiseer het nie. Die werklikheidsreeds, wat gegrond is op Jamie’s Dream School (’n Britse TV-reeks wat deur Jamie Oliver aangebied word), gee ’n tweede kans aan jong leerders wat weer hul passie vir opvoeding aan die brand wil steek. Die spesiale skool van twee weke sal ’n unieke opvoedingservaring bied met lesse wat aangebied sal word deur omtrent 12 bekende en suksesvolle Suid-Afrikaners. Party leerders wat Droomskool SA suksesvol slaag sal ’n beurs kry wat hulle sal help om terug skool toe te gaan en hul matriek te voltooi, of om in te skryf vir tersiêre opvoeding.

Wat moet jy weet?

  • Die kandidate wat gekies word om deel te neem, moet van 17 Junie tot 6 Julie in Kaapstad wees.
  • Die program sal op ’n gratis kanaal uitgesaai word en deelnemers moet bereid wees om tuis sowel as in die klaskamer verfilm te word
  • Verblyf in Kaapstad en vervoer na en van die plek waar die opnames gemaak word, sal deur die vervaardigers voorsien word.
  • Ouers of onderwysers is welkom om leerders te benoem maar moet hul toestemming hê om dit te doen.

Watter inligting het ons van jou nodig?

Stuur die volgende inligting na:

  • Jou volle naam en van
  • Geslag
  • ID-nommer
  • Foto
  • Verduidelik kortliks aan ons waarom jy aan Droomskool SA wil deelneem.
  • Hoekom het dinge nie vir jou uitgewerk op skool nie?
  • Waarmee het jy gesukkel?
  • Waarmee wil jy graag oor 10 jaar besig wees?

Maak seker jou inskrywing bereik ons voor 6 Junie 2013. Stuur jou inskrywing aan Shiehaam Daniels (shiehaam.daniels@media24.com) en skryf “droomskool” in die onderwerplyn.