Sy is so ’n inspirasie vir diereliefhebbers dat sy nou reeds amper 60 000 volgelinge op Instagram alleen het.

“Princess” Lilo, ’n agtjarige sjokoladekleurige worshond van sonnige Kalifornië, ly sedert sy vyf geword het aan tussenwerwelskyfsiekte.

Dié toestand kan senu-wanfunksie, kwaai pyn en verlamming by omtrent enige soort hond veroorsaak, maar is meer algemeen by worsies en byvoorbeeld dashonde en pekinese.

Chirurgie kon ongelukkig nie die verlamming van haar agterlyf keer nie, maar sy verduur ten minste nou geen pyn nie. En sy het voorwaar pens en pootjies ingespring toe sy in 2013 haar nuwe lewe op wiele begin.

As daar een ding wat Lilo die laaste jare (agterwiele en al) met straks nog meer geesdrif as voorheen najaag, dan is dit ’n bal van enige aard.

Zoomies met my rolstoel” en haar versameling “nuwe en gebruikte tennisballe” is van haar gunstelingdinge in die lewe, lees ’n mens op haar sosialemediablaaie. Maar ’n gridiron-rugbybal of basketbal - enigiets wat rol - is ook nie te versmaai nie.

En kyk net hoe opgewonde raak sy terwyl sy wag dat haar wiele aangegord moet word. . .

 

Bronne: Facebook, Instagram, ufaw.org.uk, doxiesdownunder.com