Daar word beweer die baba, Jayden Khoza, het traangas ingeasem. Jayden se pa, Receive Khoza, sê die baba was op die bed in hul huis toe die protesaksie afgeskop het. Hy sê die polisie het traangas die lug in geskiet en een van die houers het naby sy huis te lande gekom.

“Die baba het binne gespeel. Die ma van die baba het na buite geloop om te kyk wat aangaan.”

Toe die ma die huis weer binnegaan, het sy besef die baba kan nie asemhaal nie.

“Hulle het probeer om ’n ambulans te ontbied, maar die ambulans het vanweë die protesaksie nie opgedaag nie. Volgens Receive het die bure die kind gevat en na die plek geneem waar die protesaksie was. Daar was glo ’n ambulans naby.

Die ambulanspersoneel het die baba dood verklaar.

Thapelo Mohapi, Abahlali baseMjondolo-woordvoerder, het gesê die gemeenskap het hulle tot ’n protesaksie gewend nadat die eTkekwini-munisipaliteit nie gereageer het op ’n protesaksie verlede Maandag nie.

Die gemeenskap voel dat hul regte tot waardigheid verontagsaam word. Die munisipaliteit het ook hul pleidooie vir behuising en elektrisiteit geïgnoreer. 

Volgens Mohapi is die gemeenskap keelvol vir die munisipaliteit en verwoed oor die “brutaliteit” van die polisie en die baba se dood.

Hy beweer die polisie het op die protesaksie reageer deur vuiste, knuppels, rubberkoeëls en traangas in te span.


Kinders het begin huil, hoes en opgooi. Hoewel die gemeenskap die polisie daarop gewys het dat die kinders in gevaar verkeer, het die aanvalle voortgeduur.

Lt.kol. Thulani Zwane, polisiewoordvoerder, het gesê daar word ondersoek ingestel na die voorvalle.

Die oorsaak van Jayden se dood is in hierdie stadium nog nie bekend nie en ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word.

Volgens Zwane was dit ’n onwettige protesaksie en die situasie word as gespanne bestempel.