Twee veiligheidswagte is in ’n stabiele toestand nadat hulle glo in ’n brandende gebou op die Bellville-kampus van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) toegesluit was.

’n Gebou by die instelling se kampus in Kaapstad is ook oornag aan die brand gesteek.

Lauren Kansley, woordvoerder van die KSUT, het gesê betogers het rondom middernag klippe na die hoof-administrasiegebou in Bellville gegooi voor dit aan die brand gesteek is.

“Hulle het ook die veiligheidskantoor by die hoofingang van die kampus aan die brand gesteek. Minstens twee voertuie is beskadig.” Die universiteit het ’n klag van poging tot moord by die polisie aanhangig gemaak nadat die wagte in die brandende gebou toegesluit is.

“Die wagte het hoofsaaklik rook ingeasem en is nou stabiel. Ander klagte sluit in openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging,” sê Lauren.

Altesaam 19 studente is Dinsdag by KSUT se kampusse in Bellville, Kaapstad en Mowbray in hegtenis geneem nadat hulle en die polisie slaags geraak het.

Studente op die toneel het geëis diegene wat tydens die betoging in hegtenis geneem is, moet vrygelaat word.

Theo Lane, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweerdienste, sê brandbestryders het om middernag na die Bellville-kampus gegaan waar hulle twee mans in die brandende gebou aangetref het.

“Die twee volwassenes is vir skeurwonde en rookinaseming behandel,” het hy gesê. Owerhede het die oggend kort voor vieruur gereageer op die brand by die kampus in Kaapstad. “ ’n Deel van die instelling was in ligte laaie met ons aankoms. Albei brande is geblus,” sê Theo.

Lauren het bevestig klasse is opgeskort en dat die universiteit “alternatiewe maniere van onderrig en evaluering” bekyk. Die opsies sluit in aanlyn alternatiewe en om plekke weg van die kampus te identifiseer.

Bron: News24