’n Gewone Maandagoggend by ’n skool vir leerders met spesiale behoeftes het in ’n dag van die dood verander.

Cedric Anderson (53) het as ’n besoeker aangemeld by die skool in San Bernardino, Kalifornië. Hy het voorgegee hy wil iets afgee vir sy vervreemde vrou, Karen Elaine Smith (53).

Wat hy nie genoem het nie, is dat hy eintlik met ’n .357 Magnum-rewolwer ’n dodelike boodskap aan haar wou oordra.

Jonathan Martinez (8) is tydens die voorval dood en ’n negejarige kind gewond.

Lt. Mike Madden van die San Bernardino-polisie sê dit lyk na ’n moord-selfdoodsaak; Cedric het ook homself om die lewe gebring.

Cedric, ’n pastoor met ’n militêre agtergrond, en Karen is op 28 Januarie vanjaar getroud nadat hulle jare reeds ’n paartjie was. Hulle het mekaar vermoedelik in 2013 ontmoet.

Die huwelik was egter nie sonder struikelblokke nie, en die egpaar was die laaste paar weke van mekaar vervreem.

Tydens hul wittebrood het Cedric dié video op sy Facebook-blad gedeel.

Cedric, wat graag Bybelverse, inspirerende aanhalings en foto’s van homself op sy Facebook-blad gedeel het, het in dié video vertel hoe gelukkig hy is om Karen as ’n vrou te hê – “iemand wat weet wanneer om hom te ignoreer”.

Volgens die polisie is voorheen beweer Cedric maak hom skuldig aan gesinsgeweld, maar dis onduidelik hoeveel keer Karen deurgeloop het. Cedric het glo ook ’n geskiedenis van beweerde dwelm- en vuurwapenoortredings.

Volgens Karen se familie was sy vreesbevange vir Cedric. Sy het nooit ’n klag by die polisie ingedien nie en nie ’n woord oor hul huweliksprobleme gerep nie.

Karen se ma het gesê dit was meer as genoeg rede vir haar dogter om van Cedric te skei.

“Sy het gedink sy het met ’n wonderlike man getrou, maar uitgevind hy is glad nie so wonderlik nie,” het Irma Sykes gesê. Sy het ook beweer Cedric het ander motiewe gehad en dat die probleme begin het toe Karen hom los.

“Hy het haar doodgemaak, en homself doodgemaak,” het Karen se ma geê. “Wat ek wil weet is wat hy vir God daaroor gaan sê.”

Al laat talle Facebook-plasings dit klink of Cedric gelukkig was met die wêreld rondom hom, laat van hulle jou tog twee keer kyk.

Tussen al die aanhalings van profete wat hy gevolg het, het hy ook gewelddadige video’s gedeel – soos dié een waar ’n man ’n vrou aanrand.

Kwalik ’n maand gelede het hy hierdie brokkie op Facebook gedeel waarin hy vertroosting bied.

Bronne: bbc.com, buzzteller.com, nbcnews.com