’n Emosionele oomblik tussen Allen Halstead wat die 11 maande oue Kolbie Gregware vertroetel, is in ’n treffende swart en wit foto deur Sunshine Moody vasgevang.

“My pa het al twee opehartoperasies gehad, 18 stente in sy hart, ’n pasaangeër, bloedvatsiekte, hy is ’n diabeet, het ’n massiewe beroerte gehad, om nie te praat van die klein hartaanvalle nie. En hy’t net 10 persent hartfunksie,” het Kolbie se ma, Brandy Gregware, op haar Facebookblad geskryf. “Sy jongste draai in die hospitaal was vir hartversaking by die harthospitaal in Atlanta.”

Lees ook: Internet op hol oor foto van ma en tweelingdogters

Die oupa en kleinseun het albei ritssluiteragtige littekens op hul borskas. “Hulle kon vir hom op medikasie plaas wat sy hart help sterker klop,” sê sy oor Allen. “As die medikasie nie meer doeltreffend werk nie, gaan ons moet totsiens sê,” het Brandy bygevoeg.

Klein Kolbie het sy eerste opehartoperasie op net vier maande gehad nadat hy met ’n hartafwyking gebore is. Die kleinding, wat ’n tweelingbroer Kash het, ly aan vernouing van die longaar, pulmonale hipertensie, chroniese longsiekte, niersiekte en Downsindroom.

“Hy’s 10 maande oud en het sewe daarvan in die hospitaal deurgebring. Met sy jongste draai in die hospitaal was hy vir meer as twee weke op lewensondersteuning omdat hy verkoue gehad het. Ek was in trane toe ek hierdie foto sien. Ek is in trane soos ek dit nou tik. Dit wys vir my twee wonderwerke wat aanhou veg,” het die ma van twee geskryf.

Brandy het aan MailOnline gesê haar familie ly hieronder. Met oupa Allen en klein Kolbie in en uit die hospitaal dink sy gedurig daaraan dat hulle een dag dalk nie gaan terugkeer nie.

Sy sê sy sit dikwels en kyk dikwels hoe die tweetjies tyd met mekaar deurbring en oor hul littetekens gesels.

“Jy kan beslis die liefde en hegte band tussen die twee vegters in hierdie foto sien. Daar is soveel haat en geweld in die wêreld; tog het jy hier twee mense wat elke dag veg om hier te wees. Ek sal hierdie ongelooflike foto vir die res van my lewe koester.”

Lees ook: Roerende oomblik toe baba vir die eerste keer sy ma duidelik kan sien

Die fotograaf het ook haar gedagtes rondom die foto op Facebook gedeel: “Een lewe begin nou eers terwyl die ander een tot ’n einde kom. Albei van hulle het vanjaar baie deurgemaak. En, soos jy kan sien, is Kolbie mal daaroor om na sy oupa te kyk en sy oupa is beslis baie lief vir hom. Dis sulke oomblikke wat dit wat ek doen die moeite werd maak.”

Bronne: MailOnline, Metro