Christoff Becker en Frikkie du Preez is op 16 Februarie weer in hegtenis geneem nadat beeldmateriaal van hulle ontdek is waar hulle in die Kgosi Mampuru-gevangenis na bewering alkohol drink en ’n selfoon gebruik.

Die video, wat na bewering op ’n selfoon opgeneem is, is op YouTube geplaas. Dit het gewys hoe Frikkie en Christoff drink en ’n selfoon gebruik.

Christoff, Frikkie, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt is vroeër in Februarie vrygelaat nadat hulle tronk toe is nadat hulle in 2001 ’n hawelose man in Pretoria doodgeslaan het.

Christoff (27) het in hofdokumente gesê sy inhegtenisneming in Februarie, vyf dae nadat hy op parool vrygelaat is, was om onsinnige redes.

Hy het gesê hy was op 16 Februarie by die huis toe die Rapport ’n artikel publiseer oor hom en Frikkie, wat na bewering ’n partytjie in die tronk gehou het waar alkohol betrokke was.

Ten tye van die voorval was Christoff, Frikkie en twee ander gevangenes in die sel.

Christoff het in hofdokumente ontken dat daar alkohol by die partytjie was. Hy het ook gesê die foto’s van Johnnie Walker en J&B was eintlik foto’s op die rekenaar se skermskut.

Hy wou hê die paroolraad moes die besluit tersyde sit om sy parool terug te trek, hy moet weer terug na die Kgosi Mampuru-gevangenis oorgeplaas word en op dieselfde voorwaardes as in Februarie op parool vrygelaat word.

Christoff wou ook hê sy herinhegtenisneming en aanhouding moet onwettig verklaar word en die departement moet sy regskoste dek.

Die departement van korrektiewe dienste Woensdag gesê hulle gaan die hofaansoek teenstaan.

“Die departement het dokumente ingedien in antwoord op die hof,” het ’n woordvoerder, Manelisi Wolela, gesê.