Twee susters is Dinsdagaand dood tydens ’n vermeende huisrooftog in Garsfontein in die ooste van Pretoria.

’n Vrou wat tydens die rooftog beseer is, verkeer steeds in ’n kritieke toestand in die hospitaal. Nóg ’n vrou het ligte beserings opgedoen terwyl ’n man ernstig tydens die voorval beseer is.

Dis nie bekend hoe die beseerdes aan die twee susters verwant is nie, maar die man is glo een van die vroue wat net beseer is se pa.

Die familie is oorspronklik van Zimbabwe, maar bly al ’n geruime tyd in Suid-Afrika, sê kapt. Ilze Jones, polisiewoordvoerder.

In die stadium probeer die polisie nog om die identiteit en ouderdomme van die slagoffers, almal volwassenes, te bevestig. Dit wil voorkom asof die twee oorledenes susters was.

“Drie aanvallers was vermoedelik vir ure in die huis besig voordat die polisie omstreeks middernag ’n oproep ontvang het. Die mense in die huis kon eers na die aanvallers weg was, om hulp roep. ’n Buurvrou het die polisie gebel,” sê Ilze. “Die mense in die huis is met messe aangeval.” Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, sê in ’n verklaring toe paramedici omstreeks 00:46 op die toneel in Miasstraat aankom, het hulle ’n familie van vyf gevind wat aangeval is. “Paramedici het op die toneel gevind die mense is vasgebind, aangerand en gesteek,” sê Chris.

“Nadat die beseerdes ondersoek is, is daar gevind die twee vroue was reeds dood nog voor paramedici op die toneel aangekom het.

“Een dame was in ’n kritieke toestand en ’n man was ernstig beseer terwyl nóg ’n vrou weggekom het met net ligte beserings.”

Ilze sê in die stadium is besonderhede rondom wat presies gebeur het nog vaag. Sy het bygevoeg dat die polisie nog verklarings van die beseerdes moet afneem.

“Die aanvallers het met twee televisies, elektroniese toerusting en ’n motor wat aan die familie behoort weggekom. Die motor is later deur ’n opsoringsmaatskappy in Yeoville in Johannesburg gekry,” sê Ilze.

Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ’n saak van moord en huisroof.