Die jaarlikse Australië Dag-feesvieringe het Donderdag in ’n tragedie ontaard toe ’n vliegtuig voor duisende toeskouers in die Swanrivier, Perth, neergestort het. Beide insittendes het tydens die ongeluk gesterf. Die voorval het net na 17:00 naby Heirisson-eiland plaasgevind waar ’n skare byeengekom het om die Skyworks-vertoning te aanskou. Duisende geskokte toeskouers het gesien hoe die vliegtuig, ’n Grumman G-73 Mallard die water neus eerste getref het. Dit het daarna in stukke opgebreek. Die vlieënier en passasier is dood.

“Ek het die skou dopgehou en toe sien ek hoe die vliegtuig die water neus eerste tref,” het Natasha Eyles aan news.com.au vertel.
Craig Newell en sy familie was ook onder die toeskouers. “Die vliegtuig se enjin het gestaak. Sy vlerke het hemelwaarts gedraai en toe tref dit die water. Ons het gedink ‘dis nie goed nie’ en toe sien ons hoe die vliegtuig in stukke breek.”
Volgens Aviation Safety Network het die vliegtuig omstreeks 16:28 van die Serpentine-lughawe opgestyg waarna dit kuslangs na Perth gevlieg het. Die vliegtuig sou ’n vertoonvlug uitgeoefen het.

Bronne: perthnow.com.au, aviation-safety.net, news.com.au