Twee mense is dood nadat ’n ligte vliegtuig in ’n suikerland op Richmond naby Pietermaritzburg neergestort het, sê paramedici.

Werner Vermaak, ’n ER24-woordvoerder, sê die vliegtuig het vermis geraak kort nadat dit gister van die Oribi-lughawe in Pietermaritzburg opgestyg het.

“ER24 en Pietermaritzburgse polisie se K9-soek-en-reddingseenheid het lede ontplooi na die gebied in Pietermaritzburg waar laas met die vliegtuig kontak gemaak is,” het hy in ’n verklaring gesê.

“Laat gisteraand is die soektog afgelas weens swak sig wat met reën en mistigheid gepaardgegaan het.”

Die soektog is vanoggend hervat toe gerapporteer is dat wrakstukke in die veld uit ’n ander vliegtuig bespeur is. Die twee mense in die vliegtuig is dood gekry.

“Tans is die presiese oorsaak van die ongeluk nog onbekend en die plaaslike polisie en Burgerlike Lugvaartowerheid stel ondersoek in.”

-Sapa