Twee mans het Sondagaand in Midrand tydens ’n skietery buite die Mall of Africa gesterf.

Polisiewoordvoerder lt.kol. Lungelo Dlamini het gesê die twee mans het by die taxistaanplek gestaan toe hulle deur mans in ’n wit VW Polo genader is.

“Die twee afgestorwenes is deur onbekende verdagtes in die voertuig genader. Hulle het aanwysings gevra en terwyl hulle na hul bestemming beduie het, het hulle vuurwapens uitgehaal en begin skiet,” het hy gesê.

Lungelo sê die motief vir die aanval is nie bekend nie, maar daar word ondersoek na die voorval ingestel.

Hy wou egter nie daarop kommentaar lewer of dit voorval verband hou met sporadiese taxigeweld by die winkelsentrum rakende dié nuwe winsgewende taxiroete nie.

“Ons kan in hierdie stadium nie die twee (situasies) met mekaar in verband bring nie,” het hy gesê.

Bron: News24